Zuma-lyfwag gekoppel aan bloulig-ongeluk

Die swart BMW wat in die ongeluk betrokke was Foto: Itumeleng English, IOL

Die swart BMW wat ʼn rooi verkeerslig verontagsaam en ʼn ongeluk in Braamfontein, Johannesburg, veroorsaak het, is in ʼn presidensiële lyfwag se naam geregistreer, het The Star Donderdag berig.

Maj.gen. Mzingaye Mxolisi Dladla van die polisie se presidensiële beskermingsdiens, het glo geweier om kommentaar te lewer oor die motor, wat glo deel was van ʼn blouligkonvooi. “Ek bespreek niks oor my eenheid aan enige koerant nie,” het hy glo gesê.

Volgens die Star het Mac Maharaj, woordvoerder vir die presidensie, gesê hy kan nie kommentaar lewer oor die ongeluk nie, aangesien “alle blouligbeskerming onder die SAPD val, julle moet hulle vra”.

President Jacob Zuma het Dladla glo as sy persoonlike lyfwag aangestel nadat hy in 2005 as adjunk president afgedank is. Toe Zuma as president aangestel is, was Dladla een van die lyfwagte in Zuma se naaste sirkel, wat as die Echo Group bekend staan. Dladla is ook as hoof van die presidensiële beskermingsdiens aangestel.

Die motor, wat glo in Dladla se naam geregistreer is, was naby die Nelson Mandela-brug in Braamfontein in die ongeluk betrokke. Toe fotograwe foto’s van die ongeluk begin neem het, is die motor se nommerplate verwyder.

Hoofsup. Wayne Minnaar van die Johannesburgse metropolisie het gesê die polisie sal die ongeluk ondersoek.

Die ongeluk het Dinsdagmiddag omstreeks 15:00 op die hoek van De Korte- en Berthaweg in Braamfontein plaasgevind, berig IOL. Die BMW het glo ʼn wit Toyota Corolla, wat aan die departement van arbeid behoort, getref nadat hy die rooi lig verontagsaam het. Die bestuurders van albei voertuie is na ʼn hospitaal geneem. Hulle toestand is onbekend.

Volgens IOL het ooggetuies gesê daar was tussen vyf en 10 voertuie in die konvooi. Die res van die motors in die konvooi het ná die ongeluk weggery, wat gebruiklike sekuriteitsprotokol is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Sarie van Niekerk ·

Nog ‘n lid van die blouligkonvooi van Jacob Zuma in ‘n ongeluk!!!

Wanneer gaan hierdie blouligkonvooie wat verskrikking op ons land se paaie voer eendag einde kry. Dit is sommer net magsbehebtheid en niks anders om met hierdie vreeslike blouligkonvooie rond te jaag. Ek wonder hoeveel van daai bestuurders van daai voertuie het nie eers lisensies nie want as mens kyk na al die ongelukke en hoe roekeloos hulle ry het ek my bedenkinge oor hul bestuurderslisensies

Terloops in Afrikaans is die rang GENERAAL-MAJOOR nie majoor-generaal nie.

HELENA SEABORNE ·

di pokn gud dink mos hulle kan dun wat hulle wil. jamerte hys ni dood in die ongeluk ni.

Pieter ·

In enige piesang republiek gaan dit maar so. Aanvaar dit, dit kan net erger raak.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.