Zuma moet e-tol opskort, vra Outa

Die Bondgenootskap teen Stedelike Tol (Outa) het Vrydag versoek dat die regering die e-tolprojek moet opskort indien hy ekonomiese groei wil stimuleer.

“Die organisasie ondersteun pres. Jacob Zuma se versoek dat Suid-Afrikaners aktiwiteit moet bevorder wat ekonomiese vooruitgang sal verseker,” het Wayne Duvenage, voorsitter van Outa, gesê. “Zuma moet egter e-tol opskort.”

“Outa ondersteun die president se versoek en doen ʼn beroep op hom om dié poging in te lei deur seker te maak dat die regering nie miljarde rande mors deur die inwerkingstelling van die e-tolstelsel nie,” het hy gesê.

Onlangse verslae in die Parlement het die tekort aan die oorweging om die petrolheffing as alternatiewe befondsingsmeganisme vir die Gauteng Snelwegverbeteringsprojek uitgelig.

Zuma het Donderdag gesê Suid-Afrika moet sy ekonomiese verrigting verskerp en die koers van belegging vermeerder. “Ons moet almal ons land bevorder en aktiwiteit, wat ekonomiese groei stimuleer, in elke moontlike manier bevorder,” het Zuma gesê.

Die Johannesburgse landdroshof het verlede week ʼn aansoek deur vakbondfederasie Cosatu van die hand gewys om met ʼn betoging op die snelweg teen die e-tolstelsel voort te gaan. Cosatu het die hof genader nadat hulle nie toestemming ontvang het van die Johannesburgse metropolisie nie. Die betoging is vir die M1-noord, N1-suid, N12 en M2-noord-snelweë in Johannesburg beplan.

Die Suid-Afrikaanse Nasionale Padagentskap (Sanral) het op 11 April aangekondig dat die e-tolstelsel binne die volgende twee maande in werking sal tree. Die Pretoriase hooggeregshof het in April verlede jaar ʼn interdik aan Outa toegestaan om die inwerkingstelling van die e-tolprojek op te skort totdat ʼn geregtelike uitspraak hieroor gelewer is.

Sanral en die Nasionale Tesourie het appèl aangeteken teen dié hofbevel. Die grondwetlike hof het in September die interimbevel ter syde gestel. Die Pretoriase hooggeregshof het in Desember Outa se aansoek, om die e-tolprojek te skrap, van die hand gewys.

Die hof het Outa op 25 Januarie toestemming verleen om die saak na die hoogste hof van appèl in Bloemfontein te verwys. Dié verhoor sal in September plaasvind.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.