‘Zuma moet eie salarisverhoging vries’

Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma moet die voortou neem deur aan die land te sê dat hy sy salarisverhoging en bonus vir die volgende jaar sal vries, het ʼn ekonomiese scenario-beplanner gister gesê.

“President Zuma moet aan ons sê wat hy gaan doen om ongelykheid aan te spreek. Hy moet die eerste een wees om te sê dat hy bereid is om nie ʼn verhoging te kry nie ten einde die armes te help,” het Clem Sunter gesê. Sy uitlatings kom nadat Zuma vroeër die week ʼn beroep gedoen het op uitvoerende hoofde en direkteure in die staatsdiens en privaatsektor om hul salarisverhogings en bonusse vir die volgende jaar te vries. Zuma het die aankondiging gemaak nadat hy met regeringsleiers, arbeid en sake- en gemeenskapsorganisasies vergader het.

Azar Jammine, hoofekonoom by Econometrix, het vroeër gesê die land miljarde rande in belastinginkomste kan verloor indien daar gehoor gegee word aan Zuma se beroep. “Indien uitvoerende hoofde en direkteure ʼn salarisverhoging van sewe tot agt persent ontvang, sal Suid-Afrika R5 miljard verloor in 12 maande.” Jammine en ander ekonome waarsku dat die vries van salarisverhogings en bonusse die simptoom van ongelykheid sal aanspreek eerder as die oorsaak. “Die oorsaak is dat Suid-Afrika lae vlakke van onderwys en vaardigheidsontwikkeling het….baie mense kan nie in diens geneem word nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.