Zuma moet nog Nkandla-verslag sien

Zuma se Nkandla-woning

Zuma se Nkandla-woning

President Jacob Zuma het nog nie Thuli Madonsela, openbare beskermer, se voorlopige verslag oor Nkandla gesien nie, het sy kantoor Sondag gesê.

Mac Maharaj, Zuma se woordvoerder, sê die presidensie sal “op die regte manier” en op die gepaste tyd kommentaar oor die verslag lewer. Die Sunday Tribune berig dat Madonsela ook geweier het om kommentaar te lewer oor die voorlopige verslag wat aan ministers in die veiligheidsgroepering van die regering oorhandig is. Die verslag hou verband met opgraderings aan Zuma se Nkandla-woning in KwaZulu-Natal. Madonsela het wel aan die koerant gesê dat daar ʼn “goeie kans is dat ons gaan sê dinge is nie regtig so erg soos wat dit lyk nie.” Sy het verder gesê: “Ek is nie in die posisie om te sê dat ons ongunstige bevindings gemaak het nie…Ek kan dit nie bevestig nie. [Maar] jy kan dalk net uitvind dat die geld wat spandeer is presies die regte bedrag was.” Sy sê mense kan dalk “teleurgesteld” wees aangesien die Nkandla-verslag moes kyk na die raamwerk van wat deur die wet toegelaat word. “Indien die wet hulle toegelaat het om daai geld te spandeer, kan ek in my persoonlike hoedanigheid nie daarmee saamstem nie en sê dit moes nie gebeur het nie, maar die wet laat dit toe.” Madonsela het ook aan die Sunday Tribune gesê sy beplan om die finale verslag binne die volgende maand openbaar te maak.

President Zuma se Nkandla-woning is in omstredenheid gedompel sedert die departement van openbare werke bekend gemaak het dat opgraderings aan die landgoed die belastingbetaler sowat R206 miljoen gekos het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Erich Goosen ·

Die OB moet maar genoeg tyd toelaat vir Nr. 1 om die verslag te lees. Lees kom nike natuurlik by hom nie en as daar boonop groot woorde gebruik word, vertraag dit die proses nog verder.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.