Zuma of Motlanthe ná 2012?

Deur Eugene Brink

Suksessie-gesprekke is altyd omstrede en hoe hard die politieke ampsdraers dit probeer wegwens en wegpleit, is dit tog iets wat weier om weg te gaan totdat dit afgehandel is. Suksessie het selfs meer omstrede binne die konteks van die ANC geword ná 2007 se konferensie in Polokwane. Die spanning binne die party het toe breekpunt bereik en oudpres. Thabo Mbeki is as partyleier vervang – ʼn stap wat noodwendig tot vervanging as president sou lei. Pres. Jacob Zuma probeer sy bes om enige voortydige suksessiedebatte in die kiem te smoor deur aan te voer dit sal die party destabiliseer en dat die huidige administrasie (lees: huidige president) eers kans gegun moet word om hulself te bewys. Dit is ten beste oneerlik. Suksessiegesprekke is nie net belangrik vir die leierskap van die party nie, maar desgelyks vir die party self. Dit bepaal die koers vorentoe vir die oorlewing en sukses van die organisasie en slegs individue baat daarby as dit nek omgedraai word.

Hoewel daar weer eens groeiende spanning binne die ANC heers en suksessie in politici se gedagtes is (hoewel nie op hul lippe nie), dink ek nie daar sal weer ʼn waterskeidingsgebeurtenis soos Polokwane 2007 in 2012 in Mangaung plaasvind nie. Die ontevredenheid is nie so groot binne die party dat ʼn skeuring à la Polokwane 2007 sal gebeur nie. Die president het buitendien baie groot grondvlak-steun. Ek wil daarom die raaiskoot waag dat Zuma, ondanks sy ouderdom en menigte morele en regeerkundige tekortkominge, as partyleier en president gaan aanbly vir nog ʼn termyn ná 2012.

Dit is nietemin waardevol om sy moontlike teenstanders vir die 2012-leierskonferensie binne die drieparty-alliansie te identifiseer en ontleed. Ten spyte van al die ontkenning, is dit nou al ʼn ope geheim dat Zuma, wat aan die sogenaamde “linkse” kamp in die alliansie behoort, deur die nasionalistiese kamp teengestaan gaan word. Laasgenoemde bestaan uit figure soos die behuisingsminister Tokyo Sexwale, adjunkpresident Kgalema Motlanthe, die ANC-Jeugleier Julius Malema en die verdedigingsminister Lindiwe Sisulu. Die linkse kamp bestaan uit individue soos die minister van hoër onderwys, Blade Nzimande, Zuma, die Cosatu sekretaris-generaal, Zwelinzima Vavi, en die adjunkminister van vervoer, Jeremy Cronin. Ek voorsien nie enige teenstand of amptelike teenstanders vir Zuma uit die linkse kamp nie. Nzimande en Cronin het nie enige grootskaalse steun binne die groter alliansie nie en is nie realistiese keuses as president van die land nie. Vavi, ondanks sy fel kritiek op die ANC en veral die roofdier-elite binne die party, het (nog) nie presidensiële ambisies nie en wil eerder ʼn waghond-rol vervul. Hy mik eerder na ʼn hoë posisie binne die ANC self as om president en partyleier te word. Hy het ook nie genoeg steun binne die ANC, wat per slot van sake die regeerders is, om president te word nie. Die linkses sal eerder verdere steun aan Zuma bied as om te probeer om elk op hul eie die politieke geveg aan te durf en heel moontlik te verloor.

Die grootste teenstand gaan, ironies genoeg, van die Zoeloe-nasionalistiese kamp kom. Die twee mees prominente kandidate is Sexwale en Motlanthe, met die sakeman Cyril Ramaphosa wat ʼn buiteperd is. Sexwale was ʼn gevangene op Robben-eiland en het uiters welgesteld in die nuwe Suid-Afrika geword. Hy was die eerste premier van Gauteng, wat hom natuurlik ʼn goeie regeer-rekord gee. Daarna het hy die sakewêreld betree en ʼn groot sukses daarvan gemaak. Hy het in 2009 minister van menslike nedersettings onder Zuma in 2009 geword. Hy is en was nog altyd ʼn populis met stewige ʼn struggle-rekord. Hy het wye steun binne die Jeugliga, wat ʼn onmisbare segment vir enige moontlike ANC-kandidaat se presidensiële ambisies is, weens sy steun aan die beleërde Malema. Helaas kan sy sakesukses ook ʼn politieke meulsteun word. Die ANC bly ʼn party vir die armes en werkloses en ʼn ryk man, wit óf swart, lyk te veel na die elite van die Mbeki-era. Die gemiddelde ANC-kieser in Limpopo, KwaZulu-Natal en Mpumalanga vereenselwig hulle met leiers wat “een van hulle is”. Dus was Zuma, wat nie eens skool klaargemaak het nie en arm in Nkandla grootgeword het, vir hulle ʼn natuurlike keuse. Die ANC se linkse vennote, naamlik die SAKP en Cosatu, sal beslis nie tevrede met so ʼn groot kapitalis as leier wees nie. Hy het as minister ook telkens sy mond uitgespoel oor die onvolhoubaarheid van gratis behuising en het in die algemeen ʼn verstandige houding met sy portefeulje ingeneem. Dit sal egter nie water hou met die linkses en armes binne die alliansie nie, waar beloftes vir groter staatsbesteding feitlik nooit groot genoeg kan wees nie. Sexwale is ook nie ʼn martelaar soos Zuma was nie en het ʼn wit vrou en hierdie twee faktore is steeds van deurslaggewende belang in ʼn rasbehepte Suid-Afrika.

Ramaphosa het dieselfde slaggate in sy pad om president te word, maar het tog heelwat wat in sy guns tel. As ʼn gerekende sakeman en regsgeleerde is hy die Suid-Afrikaanse ekwivalent van die Republikeine se Mitt Romney. In feitlik enige land sal so ʼn persoon, wat wyd steun onder minderhede ook geniet, ʼn baie geskikte presidentskandidaat wees. Maar Suid-Afrika, met sy hoë werkloosheidskoers en nypende armoede asook eiesoortige geskiedenis, is nie sommer enige land nie. Ramaphosa het ʼn sleutelrol gespeel om die grootste en magtigste vakbond in die land, naamlik die National Union of Mineworkers (NUM), op te bou. Dus sal hy op redelike steun van Cosatu kan reken in sy poging om president te word. Die sakegemeenskap sal ook hul steun aan hom en Sexwale toesê. Hy het boonop ʼn kernrol gespeel in die skryf van die Grondwet en die beëindiging van Apartheid. Hy was egter sedertdien ʼn “afwesige” politikus en het daarom heelwat politieke aansien ingeboet. Hoewel hy ʼn lid van die ANC se uitvoerende komitee is, geniet hy nie oorweldigende steun binne die party nie en is hy nie sigbaar nie. Dit skep die idee dat hy eerder op sy sakebelange as op politiek wil fokus. Dit is natuurlik ʼn politieke risiko in ʼn relatief arm land waar politieke populisme aan die orde van die dag is. Hy is ook nie ʼn dienende minister nie en dít verlaag sy status selfs verder.

Motlanthe kan as die grootste gevaar vir Zuma beskou word. Waar Ramaphosa en Sexwale as groot, ryk sakeleiers bekendstaan, het Motlanthe nie so ʼn reputasie nie. Dit is onbekend of hy skool klaargemaak het en sy goeie struggle-geskiedenis is bekend. Hy is dus in die Zuma-vorm gegiet, maar val binne die nasionalistiese/kapitalistiese kamp en buitelandse beleggers en die Weste verwelkom sy kandidatuur. Hy geniet ook wye steun binne die Jeugliga en dit maak hom ʼn baie waarskynlike kandidaat. Terwyl hy ʼn gewilde kandidaat binne die ANC en land kan wees, bly die feit staan dat hy nie werklik presidensiële materiaal is nie. Terwyl hy as president waargeneem het, het hy erg uit plek gelyk en bloot soos ʼn “vuller” voorgekom. Hy is onindrukwekkend as ʼn leier en het geen menings oor belangrike kwessies uitgespreek nie. Die hartseer aspek van Suid-Afrika is dat mense soos hy wel president word omdat hy die regte geskiedenis en reputasie het.

Terwyl Mathews Phosa en Lindiwe Sisulu ook as moontlike kandidate gesien word, is hulle nie tans realistiese kandidate om president te word nie. Hul politieke profiele is te laag en hulle het te min voorbrand vir hul kandidaatskap gemaak om stoom op te bou vir 2012 se Mangaung-konferensie.

Dit is egter nog vroeë dae en baie kan nog gebeur tussen nou en Desember 2012, maar hierdie is die moontlike kandidate wat uitstaan.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae