Zuma onthou nie drankie wat glo op hom mors

Daryl Peense. Foto: Facebook

Die Durbanse landdroshof het Dinsdag gehoor dat president Jacob Zuma nie kan onthou dat Daryl Peense verlede jaar tydens die Durban July-perdewedren glo ʼn drankie op hom gemors het nie.

Peense is in Julie vanjaar skuldig bevind aan aanranding nadat hy glo sy drankie op Zuma gemors het. Die proefbeampte, Masisi Modikoane, het getuig dat sy met Zuma gepraat het oor die voorval en dat hy aan haar gesê het hy weet nie wie Peense is nie en dat hy ook nie gesien het of Peense sy drankie op hom gemors het nie. Modikoane sê sy het ʼn afspraak gehad met Zuma op 27 September by sy huis in Pretoria, maar dat dit nie gerealiseer het nie. Sy sê Zuma het telefonies aan haar gesê dat die vergadering nie sal plaasvind nie as gevolg van onvoorsiene omstandighede. “Die president was huiwerig om my te sien. Hy het aan my gesê hy kan nie die vrae beantwoord wat ek aan hom wou vra nie aangesien hy nie al die inligting rondom die saak gehad het nie”. Modikoane sê Zuma het ʼn brief aan haar geskryf waarin hy gesê het dat hy op die hof sal staatmaak om die saak te hanteer. Modikoane het voorgestel dat Peense ʼn opgeskorte vonnis ontvang sodat hy ʼn rehabilitasieprogram kan bywoon vir ʼn alkoholprobleem. Modikoane het Peense as ‘toeganklik’ en ‘positief’ beskryf gedurende haar onderhoud met hom. Die hof het ook gehoor dat Peense op 11 Oktober 2002 ʼn opgeskorte vonnis ontvang het vir die besit van dwelms. ʼn Korrektiewe beampte, Adrian Moodley, het aan die hof gesê dat Peense nie aan enige politieke party geaffilieer is nie. Hy het voorgestel dat Peense aan korrektiewe toesig onderwerp word. Moodley het getuig dat hy ook die president probeer kontak het maar dat een van sy persoonlike assistente gesê het hy is besig. Die saak is tot 30 November uitgestel sodat ʼn evaluasieverslag oor Peense opgestel kan word.

Peense het tydens sy verhoor ontken dat hy sy drankie opsetlik op Zuma gemors het. Hy het aangevoer die drankie het gemors toe mense teen hom gestamp het. Peense het erken dat hy onder die invloed van alkohol was toe die voorval plaasgevind het.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.