Zuma Presidensie se blitslyn wys Elliot-klagtes weg

telefoonDie burgerregte-organisasie AfriForum se lede in Elliot het Dinsdag klagtes by AfriForum se plaaslikeregeringsake-afdeling ingedien omdat die Presidensie se blitslyn klagtes vanuit Elliot wegwys. AfriForum se Elliot-tak het vandeesweek klagtes by die Presidensie ingedien omdat daar geen terugvoer, diens of kommunikasie is vanaf die plaaslike munisipaliteit in Elliot of die distriksmunisipaliteit in die gebied nie.

“Ons wil gewelddadige optogte verhoed en seker maak die dorp en sy inwoners is veilig, maar nou is dit die houding van die staat,” het Anton Brummer, AfriForum se voorsitter in Elliot gesê. Volgens Brummer het AfriForum ʼn veldtog op die dorp gevoer om klagtes oor dienslewering by die blitslyn aan te meld, maar die diens weier nou om verder klagtes aan te hoor. “Ons het alle gewone kanale probeer volg maar die regering het ons op alle vlakke versaak,” het Brummer bygevoeg.

In Elliot is dienslewering bitter swak en is daar geen samewerking van die munisipale bestuurder of die burgemeester nie. AfriForum is ʼn sterk stem op die dorp en verteenwoordig ʼn groot deel van die gemeenskap, maar klagtes word oor die hoof gesien.

“Die ANC se leuse is ‘Saam kan ons meer doen’, maar hulle werk nie saam nie. Indien hulle ons nie komende Woensdag met ʼn dringende vergadering kan help nie stap ons saam met die gemeenskapsleiers na die munisipale bestuurder se kantoor in Elliot om daar ʼn lys van meer as 100 klagtes, met verwysingsnommers van die blitslyn, te gaan oorhandig,” het Ian Cameron, koördineerder by AfriForum, gesê.

AfriForum is vasbeslote om gehoor te word. Indien dit nodig is om die munisipale ontvangsarea te beset, sal dit gedoen word “maar natuurlik op ʼn vreedsame manier,” het Cameron bygevoeg. “Ons sal daar wag vir die munisipale bestuur om met ons te kom gesels. Al wat ons wil hê, is ʼn verhouding waar ons saam probleme kan oplos.”

Gemeenskappe moet hulleself beveilig in ʼn onstabiele tyd in Suid-Afrika. AfriForum sal gemeenskappe bystaan waar die staat dikwels versuim om dit te doen.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Jasper ·

Probeer om nie tydens n KFC of Nando “Happy hour” te bel nie.

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.