Zuma se duur vakansie

Falcon 900-vliegtuig

President Jacob Zuma se vakansie in Mosambiek vroeër vanjaar het die Suid-Afrikaanse belastingbetaler meer as R1.6 miljoen uit die sak gejaag, het Nosiviwe Mapisa-Nqakula, minister van verdediging, gesê.

In ‘n geskrewe antwoord op ‘n vraag in die parlement het sy gesê die vakansie, wat glo oor ‘n naweek by die Mosambiekse vakansie-eiland, Bazaruto, plaasgevind het, het die gebruik van ‘n Falcon 900-vliegtuig van die Suid-Afrikaanse Lugmag (SALM) en twee Oryx-helikopters ingesluit.

“Die Falcon 900 het in totaal agt vlugte onderneem en die Oryx-helikopters het 22 vlugte met die president onderneem,” het sy gesê. “Die totale koste beloop R1 623 862.75.”

Die verslag het ook die koste van adjunkpresident Kgalema Motlanthe se Kersvakansie in die Seychelles in Desember 2012 ingesluit. Motlanthe het die Seychelles tussen 23 Desember en 4 Januarie besoek. Volgens Mapisa-Nqakula beloop die koste van twee vlugte op die Falcon 900-vliegtuig en verwante kostes meer as R1 miljoen. “Die totale koste was R1 022 939.72,” het sy gesê.

Motlanthe het in Maart vanjaar, in reaksie op ‘n vraag van David Maynier, DA-LP in die nasionale vergadering, die uitgawe verdedig. “Dit is in lyn met die beleid van die regering,” het Motlanthe gesê. Hy sê kragtens dié beleid is vervoer vir die adjunkpresident, of dit vir privaat- of amptelike besigheid is, die verantwoordelikheid van die staat. “Die staat het ook ‘n plig om te alle tye sekuriteit vir die adjunkpresident te verskaf, of hy nou betrokke is in sy amptelike hoedanigheid of nie.”

Die beleid is op 20 Maart 2007 weer deur die kabinet ingestel, het Motlanthe gesê.

Maynier het Donderdag egter in ‘n verklaring gesê dit is verkeerd om miljoene rande aan BBP-vlugte te spandeer wanneer daar so baie arm mense in Suid-Afrika is. Volgens Maynier het Mapisa-Nqakula tussen 12 Junie 2012 en 30 Junie 2013 altesaam R13 miljoen aan 61 vlugte spandeer. “Dit het gebeur te midde van die SALM se operatiewe begroting wat tot op die been gesny is en 29 van sy Gripen-vegvliegtuie en 30 Agusta-helikopters in onbruik verval het.” Maynier sê die lugmag blyk die gevaar te loop om slegs ‘n lug-taxidiens vir BBP’s te word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

HELENA SEABORNE ·

ja en intussen vrek sy boeties en sussies in die plakkerskampe van die honger. seker weer apartheid se skuld

H J Bester ·

Gesien in die lig van die grootskaalse armoede en bo-normale werkloosheid in Suid-Afrika, is die massiewe uitgawes wat vir vakansies deur die president en sy adjunk spandeer is, totaal buite verband en uiters onverantwoordelik. Die regverdiging lê nie daarin dat dit regeringsbeleid is nie – nee, hoe moreel regverdigbaar is dit gesien die feit dat Suid-Afrika ‘n ontwikkelende land is en daar dus nog baie geld en ander bronne spandeer moet word aan opvoeding en ontwikkeling op alle inwoners op ‘n gesonde ekonomiese vlak te kry.

Andrea ·

Hulle vertel ons gelate van die “kleiner” bedrae, hou ons besig op forums, stook ons gemoedere … en terwyl ons so besig is om gal te braak oor die 1 miljoen hier, 2 miljoen daar … trek hulle eintlik net ons aandag af van die MILJARDE waarvan ons niks weet nie

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.