Zuma sê Madiba is “beter as gisteraand”

Mandela in 2009 Foto: Nelson Mandela-stigting/SAPA

President Jacob Zuma het Donderdag, nadat hy besoek aan voormalige president Nelson Mandela in die hospitaal afgelê het, gesê Madiba se toestand het, volgens sy dokters, deur die aand verbeter.

Volgens Zuma is Mandela steeds kritiek, maar stabiel. “Ek het my besoek aan Mosambiek vandag gekanselleer sodat ek hom kon besoek en met sy dokters kon vergader,” het Zuma in ʼn verklaring, wat deur die presidensie uitgereik is, gesê. “Volgens sy mediese span het sy toestand deur die aand verbeter. Hy lyk vandag baie beter as gisteraand. Die mediese span doen steeds uitmuntende werk. Ons moet steeds vir sy gesondheid bid.”

Zuma sê die land moet ook met hul werk en daaglikse aktiwiteite voortgaan terwyl Mandela in die hospitaal aanbly.

Volgens die verklaring is die presidensie ontsteld oor gerugte wat oor Mandela se gesondheid die ronde doen. “Ons doen ʼn beroep op die publiek om die privaatheid en waardigheid van die oud-president te respekteer.”

Barack Obama, president van Amerika, het Donderdag in Senegal gesê Mandela is ʼn “held vir die wêreld” wie se nalatenskap deur die eeue nog sal voortduur. “Hy is ʼn persoonlike held. Ek dink hy is ʼn held vir die wêreld.”

Mandla Mandela, een van Madiba se kleinseuns, het Donderdag aan Eyewitness News gesê die familie bid dat sy oupa se pyn verlig sal word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.