Die balju het Vrydag op pres. Jacob Zuma se seun, Edward, se BMW X5 en meubels beslag gelê.
Die Sunday Times berig dat die Durbanse hooggeregshof aan Paul Mann, ʼn bekende troubeplanner, toestemming gegee het om op Edward Zuma se bates beslag te lê nadat hy nie sy rekening van R1,5 miljoen betaal het nie.
Edward het in Oktober verlede jaar met Phumelele Shange by die Tala-natuurreservaat in KwaZulu-Natal getrou. Mann het die troue vir die paartjie beplan.
Die balju het saam met polisiebeamptes sy voertuig gevat. Hulle het ook rusbanke, ʼn yskas, en ʼn hoëtroustel, asook kamp- en kroegstoele uit sy huis in Kentuckystraat in die noordelike voorstede van Durban verwyder.
Edward se prokureur het egter ingegryp en die goedere is aan hom terugbesorg.