‘Zuma se uitlatings verkeerd verstaan’

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma se uitlatings vroeër die week oor die meerderheid wat meer regte het in ʼn demokrasie is verkeerd verstaan, het die presidensie Sondag gesê.

“President Zuma wil graag diegene wat bekommerd was deur sy uitlatings herinner dat Suid-Afrika ʼn grondwetlike demokrasie is en dat die regte van alle burgers in die grondwet gewaarborg word,” het die presidensie Sondag in ʼn verklaring gesê. “Alle Suid-Afrikaners is gelyk, ongeag van kleur, ras of geloof.” Die presidensie sê die DA het Zuma se uitlatings dat die minderheid minder regte het, verkeerd verstaan. Volgens die presidensie het Zuma ʼn fundamentele demokratiese beginsel vermeld dat terwyl alle lede van die samelewing opinies het, word die wil van die meerderheid aanvaar. Daar is dus niks verkeerd met wat die president gesê het in reaksie op ʼn vraag oor vakbonde in die parlement nie.” Lindiwe Mazibuko, parlementere leier van die DA, het die presidensie sê verklaring egter as ʼn “desperate poging om skadebeheer” afgemaak. “President Zuma het homself weer geopenbaar as iemand wat nie die basiese pilare van ons grondwetlike demokrasie verstaan nie….Hierdie is ‘n president wat nie glo die grondwet is bo die ANC verhewe nie, in sy gedagtes is dit net daar om die ANC te dien,” het sy gesê.

Zuma is oor die kole gehaal nadat hy gesê het: “Jy het meer regte, want jy is ‘n meerderheid, jy het minder regte, want jy is ‘n minderheid. Dit is hoe demokrasie werk.” Dit was Zuma se antwoord nadat Mazibuko gevra het of hy dit sal oorweeg om arbeidswetgewing te wysig ten einde te verseker dat kleiner vakbonde nie by onderhandelinge uitgesluit word nie. “In ‘n demokratiese situasie is dit die meerderheid wat seëvier. Ek kan nie die reëls verander omdat jy ‘n bepaalde punt wil maak nie. Jy kan nie dan sê, kleiner vakbonde moet op dieselfde manier met groter vakbonde vergelyk word nie,” het Zuma gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Paul ·

Hierdie is eintlik net ‘n bevestiging van hoe ongesofistikeerd Zuma en die ANC se beskouing van demokrasie is. Dis eintlik goed dat dit gesê is – nou sal meer mense hopelik besef dat dit die ANC se beskouing is.

” Zuma ʼn fundamentele demokratiese beginsel vermeld dat terwyl alle lede van die samelewing opinies het, word die wil van die meerderheid aanvaar”

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.