Zuma se vis-en-skyfie-advertensie onttrek

ʼn Vis-en-skyfie-advertensie van pres. Jacob Zuma is glo vrywillig deur die maatskappy onttrek.

Carlo Gonzaga, hoof uitvoerende beampte van Taste Holdings, die houermaatskappy van The Fish and Chips Company, het gesê alhoewel die maatskappy nie met die SAUK se besware saamstem nie, was hy nie van voornemens om die saak te ‘forseer’ nie. “Alhoewel die openbare terugvoer op ons advertensie meer as gunstig was en geen amptelike beswaar aangeteken is nie, het ons besluit om nie meer die advertensie op enige televisiekanaal uit te saai nie,” het Gonzaga gesê.

Die SAUK het Dinsdag gesê dat hy besluit het om nie die advertensie Maandag uit te saai nie, omdat dit impliseer die president keur die produk goed. Kaizer Kganyago, woordvoerder vir die SAUK, het gesê die advertensie is ook nie betyds aan die SAUK voorgelê sodat die gehalte en ander tegniese aspekte daarvan goedgekeur kon word nie.

Gonzaga sê dit was nooit die advertensie se doel om dit te laat blyk dat die president die produk goedkeur nie, maar eerder dat die produk goeie waarde vir geld is. “Alhoewel ons van mening is dat geen redelike persoon sal aanvaar dat die president ons (of enige) ander produk sal goedkeur nie, bied ons R100 000 aan om aan ʼn liefdadigheidsorganisasie van Zuma se keuse te skenk,” het hy bygevoeg.

Die Instituut van Vryheid van Uitdrukking het vroeër hul bekommernis uitgespreek dat die SAUK se besluit om nie die advertensie uit te saai nie, moontlik aan sensuur grens.

Klik hier om die advertensie te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.