‘Zuma skep verleentheid vir Obama, Mandela en SA’

President Obama en president Zuma staan die media te woord na afloop van hul vergadering. Foto: GCIS

Die Christelike Demokratiese Party (CDP) sê president Jacob Zuma se uitlatings aan die Amerikaanse president Barack Obama dat oudpres. Nelson Mandela tevrede is met hoe die ANC die land regeer, is ʼn belediging.

Ds. Theunis Botha, leier van die CDP, sê die uitlatings het Zuma, Obama, alle Suid-Afrikaners en Mandela self beledig. “Om die kritiek-sieke Mandela as goedkoop politieke instrument te gebruik is betreuringswaardig, en is in ieder geval gestroop van geloofwaardigheid. ‘n Jaar gelede het emeritus aartsbiskop Desmond Tutu reeds gesê dat as Mandela ten volle bewus sou wees van wat om hom aangaan, sou hy baie hartseer gewees het. Obama is op ‘n amptelike besoek aan Suid-Afrika en verteenwoordig die Amerikaanse nasie, nie net die Demokratiese Party nie. Die minste wat ‘n mens van Zuma kon verwag was om bo die partypolitiek uit te styg, en om darem een keer in sy lewe ‘n staatsman te wees en om almal in Suid Afrika te verteenwoordig.”

Zuma het Saterdag na afloop van ʼn vergadering met Obama by die Uniegebou aan die media gesê die huidige regering volg in Mandela se voetspore en dat hy dieselfde as die huidige regering sou doen as hy nog president was. “Zuma weet baie goed dat hy nou enige woorde in die mond van Mandela kan lê, en dat dit nie weerspreek kan word nie. Maar om absurde aansprake te maak doen ‘n onreg aan die nalatenskap wat mense regoor die wêreld van Mandela koester. Zuma moet ook nie Obama beledig deur hom as ʼn verkiesingfoefie te probeer inspan nie,” het Botha gesê.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

4 Kommentare

Carin ·

Ek wens werklik dat Zuma will wakker word uit “Lalaland” waar hy homself bevind en die realiteite in ons land in die gesig begin staar.

Bets ·

Mnr Zuma, die nuus is vol van Mandla Mandela wat oorskot van die familie opgegrawe het sonder die hoofde se toestemming en dit is hoekom Mnr Mandela se siel nie tot ruste kan kom nie. Het jy al daaraan gedink dat dit dalk is omdat ons land in die afgrond gestuur word en korrupsie hoogty vier, moord en roof nie aangespreek word nie, verkragting, mishandeling en …. o ja…. omgekeerde rassisme!! Is dit nie dalk hoekom hy nie tot ruste kan kom nie. Ek onthou wat Pres Obama gister gese het, “as jy kan leer om te haat is dit baie makliker om te leer om lief te he” So waar. Haat is ‘n baie kragtige emosie, maar liefde is sterker as haat.

Paul ·

Zuma verstaan die kuns om openlik te lieg en te bedrieg. Kyk wat het April maand gebeur met sy besoek aan Madiba. Hy sal nog agterkom dat sy liegstories soos ‘n klein kombersie is, maak jy die een kant toe dan is die ander kant oop!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.