Die omstrede kunswerk waarop president Jacob Zuma met ontblote geslagsdele uitgebeeld word en waaroor die ANC vandag hof toe gaan, is “kru, onbeskof, minagtend en rassisties.”
Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, het gister tydens ʼn mediakonferensie in Johannesburg gesê indien dit ʼn wit man was wat in die kunswerk uitgebeeld is, die reaksie baie anders sou gewees het. Die ANC gaan vandag die hooggeregshof in Johannesburg nader in ʼn poging om die Goodman-galery in Johannesburg te dwing om die kunswerk van die uitstalling te verwyder en die Sondagkoerant City Press te dwing om ʼn foto van die skildery van sy webtuiste te verwyder. “Ons het in ons 18 jaar nog nie rassisme ontgroei nie,” het Mantashe gesê. Hy meen die kunswerk is wyd veroordeel en dat dit lei tot rassepolarisasie. Mantashe sê die enigste bedreiging vir vryheid van uitdrukking is dat mense dit gebruik sonder dat hulle dit verstaan en dit daardeur vernietig. Op ʼn vraag aan Mantashe oor of president Zuma dit verdien om só geskilder te word, het hy gesê die feit dat Zuma poligamie beoefen nie ʼn verskoning is om hom so te skilder nie. Die Rolprent-en- Publikasieraad (FPR) het intussen gister die galery besoek om vas te stel of die skildery weens naaktheid geklassifiseer moet word.
Een kommentaar