Zuma-skildery weer vertoon

Yakhal'inkomo - Black Man's Cry. Foto: Art South Africa/Facebook

Yakhal’inkomo – Black Man’s Cry. Foto: Art South Africa/Facebook

ʼn Skildery wat president Jacob Zuma en die bloedbad by Marikana uitbeeld word nou weer by die FNB Joburg Kunsfees 2013 vertoon nadat dit vroeër verwyder is, berig die Sunday Independent.

Die organiseerders van die fees het glo Ayanda Mabulu se werk getiteld Yakhali’inkomo – Black Man’s Cry verwyder uit vrees dat die regering nie die fees verder finansieel sou steun nie. Die werk is egter weer ten toon gestel nadat die fotograaf David Goldblatt, die hoofkunstenaar by vanjaar se fees, sy werk uit protes verwyder het. “Ek moes standpunt inneem teen die bedreiging van vryheid van spraak,” het Goldblatt gesê.

Die werk wys ʼn knielende mynwerker met horings op sy kop – ʼn metafoor vir ʼn sterwende bul. Zuma staan agter die mynwerker met ʼn hond aan ʼn leiband. Die hond, wat die polisie simboliseer, val die mynwerker aan. Zuma staan met sy voet op ʼn ander mynwerker se kop. Brittanje se koninging Elizabeth II en prins Charles kyk toe en lag oor die toneel wat voor hul afspeel. Julius Malema, leier van die Ekonomiese Vryheidsvegters (EFF), word ook in die werk uitgebeeld en lyk geskok deur wat hy sien. ʼn Stiervegter lok die mynwerkers na sy swaard met ʼn Suid-Afrikaanse vlag in plaas van die gebruiklike rooi doek.

Ayanda het in 2010 vir omstredenheid gesorg met sy werk Better Poor than a Rich Puppet wat Zuma se ontblote geslagsdeel uitbeeld. Die kunstenaat Brett Murray se werk The Spear is verlede jaar uit die Goodman-galery in Johannesburg verwyder. Zuma se ontblote geslagsdeel word ook in die skildery uitgebeeld.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.