Zuma skop teen drukgroep

Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma gaan Casac, die Grondwet-waghondorganisasie, se aansoek in die konstitusionele hof teenstaan wat hom wil dwing om ʼn permanente nasionale direkteur van openbare vervolging (NDOV) binne 30 dae aan te stel, het Beeld Donderdag berig.

Die Raad vir die Bevordering van die SA Grondwet (Casac) het vandeesweek ’n dringende aansoek by die land se hoogste hof ingedien om Zuma te probeer dwing om iemand in dié posisie aan te stel.

Beeld berig dat Zuma se regspan Woensdag skriftelik aan Casac bevestig het dat hulle dié aansoek gaan teenstaan.

Adv. Nomgcobo Jiba neem nou al vir die afgelope nege maande waar as die NDOV. Die vervolgingsgesag is sonder ‘n permanente hoof sedert die appèlhof Zuma se aanstelling van adv. Menzi Simelane as NDOV in 2011 tersyde gestel het.

Die presidensie moet sy reaksie voor 19 Julie by die hof inhandig.

– SAPA

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.