Zuma trek hofsaak teen Zapiro terug

Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het alle aanklagte teen die spotprentkunstenaar Zapiro teruggetrek.

Zuma sal ook die helfte van die Sunday Times se regskoste betaal, het die koerant Saterdag berig. Die spotprent deur Jonathan Shapiro (Zapiro) beeld Zuma uit wat gereed maak om die regstelsel (deur ‘n vrou uitgebeeld) te verkrag. Sy politieke vriende hou haar vas en een (met ANC op sy T-hemp) moedig Zuma aan.

“President Zuma het die regte ding gedoen om die saak terug te trek. Dit is baie goeie nuus vir mediavryheid,” het Dario Milo, wat die Sunday Times verteenwoordig, gesê. “Hopelik sal hy binnekort ook sy ander 12 huidige sake teen die media terugtrek. Dit sal ‘n belangrike sein stuur dat die president die media se reg, om sy optrede te kritiseer, respekteer.”

Dié onttrekking is ‘n einde aan ‘n vierjaar-saga wat in 2008 begin het toe Zuma R4 miljoen skadevergoeding vir sy reputasie geëis het, en R1 miljoen vir sy waardigheid. Zuma het onlangs die eis na R100 000 verminder en ‘n verskoning geëis. Die saak sou Maandag in die hooggeregshof in Johannesburg voorgekom het.

Shapiro sê hy het “gemengde gevoelens”, aangesien hy vol vertroue is dat hy die hofsaak sou gewen het. “Dit is ‘n regverdiging van die boodskap wat ek in die spotprent wou oordra en ‘n regverdiging van die Sunday Times om die spotprent te publiseer,” het Shapiro gesê.

Die spotprent is een van ‘n reeks wat Zapiro gedoen het. Klik hier om die spotprente in die reeks te sien.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.