Zuma, Tutu kry van die eerste slim ID-kaarte

Nkosazana Dlamini-Zuma, voormalige minister van binnelandse sake, toe sy haar ID-kaart in 2012 aan joernaliste getoon het. Foto: listrends.blogspot.com

Die eerste reeks slim ID-kaarte gaan vandeesmaand aan ʼn reeks prominente Suid-Afrikaners uitgereik word.

Naledi Pandor, die minister van binnelandse sake, het gesê dat president Jacob Zuma, Winnie Madikizela-Mandela, emeritus aartsbiskop Desmond Tutu en oud-president Thabo Mbeki onder andere op Mandeladag, 18 Julie, hul slimkaarte gaan ontvang.

“Ons gee prioriteit aan die Mandela-generasie, en veterane wat in hul 80s en 90s is. Ons wil hul vereer terwyl hulle nog in persoon by ons is,” het Pandor gesê. “Ons sal binnekort planne bekend maak wanneer en hoe die slimkaarte aan die algemene publiek beskikbaar gestel gaan word. Daar gaan gefokus word op jong Suid-Afrikaners wat vir die eerste keer aansoek doen vir ʼn identiteitsdokument, sowel as bejaardes.”

Ander bekendes wat van die eerste kaarte gaan ontvang sluit adjunkpresident Kgalema Motlanthe, oud-pres. FW de Klerk, en anti-apartheid vegters Sophi de Bruyn, Andrew Mlangeni, Ahmed Kathrada en Dennis Goldberg in.

Dit gaan tussen ses en agt jaar neem vir alle Suid-Afrikaners om met die slim ID-kaarte toegerus te word.

“Ons doen ʼn beroep op almal om geduldig te wees en ons toe te laat om dié verandering doeltreffend in te faseer. Ons gaan die aantal kantore uitbrei waar mense vir die slim ID-kaarte kan aansoek doen. Ons hoop dat alle Suid-Afrikaners saam met ons sal werk om te verseker dat hierdie belangrike nasionale projek sal slaag.”

Om ʼn stormloop vir die nuwe ID-kaarte te vermy, het Pandor gesê aansoekers sal in fases deur kantore van binnelandse sake volgens hul ouderdomme genooi word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.