Zuma vergader met Obama

Foto: GCIS

President Jacob Zuma sal Saterdagoggend met die Amerikaanse president Barack Obama by die Uniegebou vergader nadat Obama Vrydagaand in Suid-Afrika aangekom het.

Dit is Obama se eerste besoek aan Suid-Afrika as president. Zuma en Obama sal na afloop van hul vergadering mediavrae antwoord. Die versterking van bilaterale verhoudings tussen Suid-Afrika en Amerika, handel en beleggings, onderwys, gesondheid, ontwikkelingshulp en ontwikkelingsamewerking in Afrika is glo op die agenda vir die vergadering tussen Zuma en Obama. Die Amerikaanse president sal ook later vandag studente by die Universiteit van Johannesburg toespreek voor hy vanaand ʼn staatsbanket bywoon en Sondag na Kaapstad vertrek vir ʼn besoek aan Robbeneiland en ʼn toespraak by die Universiteit van Kaapstad.

ʼn Verenigde State amptenaar het intussen Saterdagoggend gesê dat Obama nie oudpresident Nelson Mandela in die hospitaal sal besoek nie. Volgens die amptenaar sal Obama en sy vrou Michelle wel tyd saam met Mandela se familie deurbring om hulle te troos in die moeilike tyd. “Uit respek vir Nelson Mandela se rustigheid en gemak en die Mandela-gesin se wense, sal hulle nie die hospitaal besoek nie.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.