Zuma vra ondersoek na wapenskandaal

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het aangekondig dat hy ʼn nuwe kommissie van ondersoek sal aanstel om die omstrede multimiljoenrand-wapenskandaal te ondersoek.

Zuma se woordvoerder, Mac Maharaj, sê die president sal binnekort die voorwaardes van verwysing, die samestelling van die kommissie en die tydsraamwerk waarin die ondersoek moet plaasvind, aankondig. Zuma het die minister van justisie en grondwetlike ontwikkeling, Jeff Radebe, versoek om die nodige stappe te neem om die besluit in werking te laat tree. In 2009 is daar ʼn aansoek ingedien by die Wes-Kaapse hooggeregshof waar die hof gevra is om Zuma te lei in die aanstelling van ʼn onafhanklike kommissie van ondersoek. Daar is later vasgestel dat die Wes-Kaapse hooggeregshof die verkeerde forum was om die saak aan te hoor. ʼn Aansoek is later by die konstitusionele hof ingedien. Maharaj sê die saak was reeds aan die gang toe Zuma se termyn begin het en dat hy die reg sy gang wou laat gaan. Hy sê Zuma het egter besluit om tussenbeide te tree nadat verskeie verwikkelinge in die saak in ag geneem het en ook die feit dat dit in openbare belang sal wees om die saak af te handel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.