Zuma: ‘Waardeer menseregte’

Foto: GCIS/SAPA

Suid-Afrikaners moenie vryheid en menseregte as vanselfsprekend aanvaar nie, het pres. Jacob Zuma Woensdag tydens ʼn Menseregtedag-byeenkoms in Johannesburg gesê.

“Kom ons vier die reg op lewe, gelyk voor die wet, menswaardigheid, vryheid en veiligheid van persoon, vryheid van slawerny of gedwonge arbeid,” het Zuma in Kliptown, Soweto, gesê. “Die reg tot privaatheid, vryheid van beweging; geloof; oortuiging en mening as wel as die regte van werkers; vroue en kinders. Kom ons vat hande op hierdie dag en vier ons grondwet en spesifiek ons handves van menseregte.” Hy het gesê betogings wat in die 1960’s in Langa en Sharpeville gehou is, is gehou om te veg vir mense se regte om in stedelike gebiede te woon en te werk. “Hulle weerspieël ook die armoede en onderontwikkelling in landelike gebiede en die destydse Bantoe-stans.” Zuma het gesê die regering se infrastruktuurplan is daarop gemik om onderontwikkelling aan te spreek en te reageer op die basiese behoeftes van alle mense. Ingevolge die infrastruktuurplan word swartmense nie meer as tydelike besoekers gesien nie. “Hulle is stadsbewoners en het regte,” het Zuma gesê. Menseregtedag was voorheen bekend as Sharpeville-dag om die dag te herdenk toe 69 swart betogers in 1960 deur die polisie doodgeskiet is.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.