Zuma waarsku Mulder oor gronduitlatings

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het die leier van die Vryheidsfront plus, dr Pieter Mulder, gewaarsku om versigtig om te gaan rakende die emosionele kwessie van grondhervorming.

“Dit moet met uiterste sorg hanteer word, en nie in die sorgelose en gevoellose wyse waarop agbare Mulder dit gister hanteer het nie,” het Zuma gesê in reaksie op die debat in die Nasionale Vergadering oor sy staatsrede verlede week. Zuma het aan LP’s gesê dat Mulder die nasie verstom het met sy “ontkenning van die historiese feite oor grondonteiening”. Mulder het onder meer in sy toespraak gesê: “Die ANC praat graag van “Black people in general and Africans in particular.” Meneer, “Africans in particular” het nooit in die verlede in die hele Suid-Afrika gewoon nie. Die Bantoesprekendes het van die ewenaar af afbeweeg terwyl die wittes van die Kaap af op beweeg het om mekaar by die Keirivier te ontmoet. Daar is genoeg bewyse dat daar geen Bantoesprekendes in die Wes-Kaap en Noordwes Kaap gewees het nie. Hierdie gedeeltes beslaan 40% van Suid-Afrika se oppervlakte.” Mulder het ook die syfers van grondeienaarskap bevraagteken wat deur Zuma aangehaal is. Zuma sê sy regering het besluit om die probleem van grondhervorming op te los deur vergoeding, herverdeling en besitreghervorming binne die grense van die Grondwet, en deur ‘n beleid van versoening en nasiebou. “Ons voel dit gaan nie die land help om emosioneel te wees rakende die grondkwessie nie. Ons versoek dus dat agbare Mulder om versigtig om te gaan met die kwessie.” Zuma se dit is ʼn uiters sensitiewe kwessie en vir die meerderheid van mense in die land is dit ʼn “saak van lewe en dood.” Hy sê die regering het ʼn groenskrif bekendgestel rakende grondhervorming aangesien hulle die saak verantwoordelik wil hanteer.

Terwyl Zuma gepraat het, het die Vryheidsfront Plus LP, Pieter Groenewald, hom in die rede geval en gevra: “Mnr die president, dink jy dit is verantwoordelike leierskap indien sommige leiers in die ANC aan witmense sê dat hulle grond gesteel het en dus diewe is? Is dit verantwoordelike leierskap?” Zuma het hierop geantwoord deur te sê: “Agbare speaker, ek is seker die agbare lid wil nie hê ek moet die grondkwessie bespreek nie; hoe dit gebeur het dat grond in die hande van die minderhede in die land is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.