Zuma: ‘Wapentransaksie-ondersoek sal binne twee jaar afgehandel wees’

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het Maandag aangekondig dat die appèlhofregter, Willie Seriti, aan die hoof sal staan van die kommissie wat die omstrede wapentransaksie gaan ondersoek.

Adjunk-regter-president van die hooggeregshof in Pretoria, Willem van der Merwe, en regter Francis Legodi, sal die ander twee lede wees van die kommissie. Zuma het Maandag aan verslaggewers in Pretoria gesê dat die kommissie bewerings van ongeregtigheid sal ondersoek in die verkryging van strategiese verdedigingspakkette, algemeen bekend as die “wapentransaksie”. Zuma se die kommissie sal na verwagting binne die volgende twee jaar die ondersoek afhandel.

Zuma het op 15 September aangekondig dat hy ʼn kommissie sal aanstel om die wapentransaksie te ondersoek. Die aankondiging is gemaak kort voor die saak in die hoogste hof in die land aangehoor sou word. In 2009 is ʼn aansoek voor die Wes-Kaapse hooggeregshof gebring waar daar gevra is dat die president ‘m kommissie van ondersoek na die wapentransaksie instel. Daar is later aangekondig dat dié hof egter nie die regte forum was om die saak aan te hoor nie en ʼn aansoek is voor die konstitusionele hof gebring. Die saak sou op 17 November aangehoor word. Zuma is self by die wapentransaksie betrek en het talle korrupsie aanklagte in die gesig gestaar. Alle aanklagte is egter in April 2009 teen Zuma laat vaar op tegniese gronde.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.