Zuma was oneerlik met armes, sê Solidariteit

President Jacob Zuma

Die vakbond Solidariteit het Woensdag in ʼn brief ’n beroep op president Jacob Zuma gedoen om die nuwe voorgestelde bemagtigingskodes te stop en sodoende te wys dat hy nie diskriminasie teen enige behoeftige persoon, swart of wit, goedkeur nie.

Volgens die nuwe bemagtigingskodes sal maatskappye se maatskaplik-ekonomiese ontwikkelingsbydraes net erken word indien 100% van die bevoordeeldes swart is. Solidariteit het vandag by die Betlehem-nedersetting in die noordweste van Pretoria, waar president Zuma meer as twee jaar gelede hulp aan armes beloof het, tjeks aan welsynsorganisasies oorhandig. Johan Kruger, woordvoerder van Solidariteit, sê die oorhandiging van tjeks ten bedrae van R1 000 aan onderskeidelik Nawongo, die Bethlehem Oord en die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie is simbolies van aard. “Wat ons hiermee gewys het, is dat nierassige welsynsorganisasies wesenlik benadeel sal word indien die nuwe bemagtigingskodes deurgevoer word. Indien die nuwe kodes reeds gegeld het, sou dit beteken dat Solidariteit as maatskappy nie SEB-punte vir die donasie sou kry nie. Dit het ook gewys dat maatskappye wat geld aan behoeftiges wil skenk, dus gedwing sal word om nierassige welsynsorganisasies te vermy ten einde nie deur die kodes gepenaliseer te word nie. Dit is nie net behoeftige wit mense wat deur die bepaling benadeel gaan word nie, maar ook derduisende behoeftige swart mense. Indien net 1% van die kindertjies in ’n kinderhuis wit is, sal die 99%- swart kindertjies ook benadeel word. Die kodes ontmoedig enige vorm van integrasie.”

Kruger sê president Zuma het in Maart 2010 die Bethlehem-nedersetting besoek en is aangehaal waar hy beklemtoon het dat niemand van hulp uitgesluit mag word nie, en dat die regering hom tot alle Suid-Afrikaners, ongeag ras of geloof, verbind. “President Zuma se uitlatings staan egter in skrille kontras met die nuwe bemagtigingskodes waarvolgens ontwikkelingshulp aan behoeftige mense op grond van ras bepaal word. Zuma was dus oneerlik toe hy aan die arm mense gesê het dat hy nie agter beleid en verslae sal skuil nie.”

Solidariteit het vroeër die week ’n reuseveldtog van stapel gestuur om die nuwe bemagtigingskodes te stop. Die vakbond beplan om duisende besware aan die minister van handel en nywerheid, Rob Davies, te stuur. Twitter, Facebook, e-pos-kettingbriewe, SMS’e en webblaaie word ingespan om mense op ’n groot skaal te mobiliseer om beswaar teen die kodes te maak. Mense kan protesbriewe direk aan minister Davies vanaf die webblad www.solidariteit.co.za stuur, en die veldtog kan op Twitter by #stoprob gevolg word. Protes kan ook aangeteken word deur bloot die woord ‘Rob’ te SMS na 34388.

Lees die brief aan Zuma, klik hier.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.