Zuma: Weeskinders, ouetehuise is Christenskap se skuld

President Jacob Zuma. Foto: GCIS

President Jacob Zuma het Christenskap blameer vir die bestaan van weeskinders en ouetehuise.

The Times berig dat Zuma die uitlatings gemaak het by die bekendstelling van ʼn padveiligheid en misdaadbewusmaking veldtog in KwaMaphumalo in KwaZulu-Natal . “As Afrikane het ons lank voor die totstandkoming van godsdiens en die evangelie ons eie manier gehad van dinge doen. Godsdienstige mense het na die tye verwys as die donker dae, maar ons weet dat gedurende daardie tye was daar geen weeskinders of ouetehuise nie. Christendom het dié dinge te weeg gebring.” Zuma, wat in 2007 ingestel is as ‘n ere-pastoor by’ n vergadering van die onafhanklike charismatiese kerke in Durban, het aan die skare gesê dat Suid-Afrikaners moet terugkeer na die “ou manier van dinge doen” omdat moderniteit skadelik is vir die samelewing. “Ons het wette wat jou as ouer verbied om lyfstraf te gebruik. As jy vandag as ʼn ouer lyfstraf gebruik om jou kind te dissiplineer oortree jy die wet, maar die persoon wat die wet ingestel het, kan nie jou kind grootmaak nie.” Zuma sê terwyl hy nie sulke wetgewing blameer nie “kan hy nie diplomaties wees hieroor nie.”

Zuma se skynbare kritiek op die Christendom is in sterk kontras met die ANC se geskiedenis van die gebruik van godsdienstige terminologie om die party te bevorder. Die hoofsweep van die ANC, Mathole Motshekga, het Dinsdag gesê die ANC moet standvastig bly as die heerser van Suid-Afrika “totdat Jesus terugkeer na die wêreld.” Motshekga is luid toegejuig nadat hy aan afgevaardigdes by die ANC se provinsiale verkiesingskonferensie in Limpopo gesê het “die party het ʼn verantwoordelikheid om te regeer totdat Jesus ons weer besoek.” Zuma het ʼn soortgelyke uitlating gemaak tydens ʼn politieke byeenkoms in Junie 2009 in Mpumalanga toe hy gesê die ANC sal regeer “totdat Jesus kom.” Zuma het glo in Februarie vanjaar aan kiesers in die Oos-Kaap gesê dat hulle sal hemel toe gaan indien hulle vir die ANC stuur. Zuma het al talle soortgelyke uitlatings gemaak.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.