President Jacob Zuma het Woensdag die verbeterde 2011 matriek-slaagsyfer verwelkom en gesê dit is ‘n “stap vooruit”.
“Zuma wil graag al die matrieks wat in 2011 hul nasionale senior sertifikaat-eksamen afgelê het, gelukwens,” het sy woordvoerder, Mac Maharaj in ‘n verklaring gesê. “Hy verwelkom die stygende slaagsyfer en sê dit is ‘n stap vooruit.” Bykans 70.2% van matrieks het laasjaar se eksamen geslaag, teenoor 67.% in 2010. Van die matrieks wat geslaag het, het 24.3% universiteitsvrystelling ontvang. Angie Motshekga, minister van basiese onderwys, het die uitslae Woensdag in Pretoria bekendgemaak. In 2009 het 60.7% van matrieks die eksamen geslaag en 62.5% in 2008. Zuma het glo ook gesê: “Ons dink spesiaal aan dié matrikulante wat, ten spyte van moeilike omstandighede uitsonderlik presteer het. Julle het aan julle eweknieë en die hele land bewys dat jou omstandighede nie bepaal wat jy kan of nie kan doen nie. Ons wens julle alle sterkte vorentoe.” Zuma het ook sy sterkte toegewens aan diegene wat matriek nie geslaag het nie en gesê dat hulle in hul tweede probeerslag moet deurdruk.