AB en Rilee maak amok in Bangladesj

AB de Villiers is so avontuurlik so altyd in Bangladesj. Foto: Cricinfo.

Gaan net vinnig op ’n krieketverbeeldingsvlug en dink aan ’n Protea-toporde wat soos volg vir die komende wêreldbeker lees: Hashim Amla, Quinton de Kock, Faf du Plessis, AB de Villiers, Rilee Rossouw, David Miller …

Genoeg om teenstanders dalk na hul bekers warm melk (of iets sterkers) te laat gryp, want hulle kan slapelose nagte hê.

Maar tog is dit waarskynlik net waanbeelde, want Rossouw het vroeër ’n Kolpak-kontrak geteken en De Villiers het verlede jaar sy uittrede uit internasionale krieket aangekondig.

Die duo – wat vir Rangpur Riders in Bangladesj se T20-reeks speel – se kolfwerk is egter nog so flink soos altyd en hulle sou beslis meer werd as die Britse kroonjuwele vir die Proteas in Engeland gewees het.

De Villiers spog met een van die mees indrukwekkende treftempo’s in die reeks. In net ses wedstryde het hy 247 lopies teen ’n gemiddeld van 61.75 geslaan. Sy lopies word teen ’n tempo van 168 lopies per 100 aflewerings geklits.

Hoewel hy die Riders se uitspeelwedstryde gaan misloop, was hy in sy laaste wedstryd ’n doring in Camilla Victorians se vlees. Hy het 34 van 22 balle geslaan en twee kolwers uitgevang.

Rossouw – wat ook vir die Riders speel – is die voorste lopiemaker in die reeks. Hy het tot op hede sy wilgerlat vir 558 lopies geswaai en spog met ’n gemiddeld van 79.71.

Daar word deesdae baie ope briewe aan De Villiers oor sy moontlike deelname aan die wêreldbeker geskryf; hoop net hy lees hulle.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

11 Kommentare

Jack Russl ·

Los maar die briewe, laat AB maar in die T20 ligas speel. Sy lus om vir die Proteas te speel is lankal nie meer daar nie. Genoeg talent in die huidige span

JJ ·

Wel…dis Bangladesh lol. Selfs Rilee maak runs…dan moet jy weet.

Juandre ·

Ek sê as jy uit internasionale sport tree as speler dan is jy klaar met sport, in hierdie geval dan nou krieket. Nou speel AB nog reg oor die wêreld krieket en in die IPL waar hy hewige geld betaal word. Sy verskoning was dat hy ontsettend moeg was van krieket speel maar hy is nie te moeg om te speel daar waar geld betrokke is nie. Moet hom asb nie vir die wêreldbeker kies nie, hy verdien dit nie. Jy kan nie jou brood aan albei kante gebotter hê nie.

Robert ·

@Juandre: AB het nie meer kans gesien vir die straf program van die Proteas nie en hy kan nou kies watter formaat hy wil speel en wanneer. Geld is ongelukkig betrokke by T20 wedstryde want dit is wat die skares en die borge lok. Hy het klaar gekies om sy brood aan die een kant gebotter te hê en dis vir hom beter. Hy het baie in die Protea span gesit en verdien die geleentheid om te kan kies waar hy wil speel en geld daarvoor te verdien. Het jy gesien dat hy nie in die Aus BBL gespeel het nie, daar is eintlik meer geld daar as in die Bangladesh reeks – so die argument vir geld pas nie orals nie.

KL ·

Hy is nie eens beskikbaar vir die WC nie Juandre. Hy het uitgetree, hy kan maak NET WAT HY WIL. As jy die dag aftree, dan mag jy nie meer doen waarvoor jy lief is vir groot sakke geld nie?

Kaptein ·

So as hy minder krieket wil speel, en kies wanneer hy speel, en speel net wanneer hy lus is, wat het dit met jou uit te waai?

Juandre ·

Maar hy speel nog in die IPL wat omtrent amper 2 maande se intense krieket is en hulle speel gereeld en dan nou nog in Bangladesh en ek het gelees hy gaan in Pakistan ook nog speel. Nee om te sê hy is “moeg” was ‘n flou verskoning en Robert sê my graag hoeveel geld wil AB nog gaan maak jy wat natuurlik volgens die internet is sy netwaarde oor ‘n honderd miljoen rand. Hoekom is Faf, Amla, Steyn ens ook nie so “moeg” nie sou ek graag wou weet. AB het te groot vir krieket geraak. Ja hy was en is seker nog talentvol maar gelukkig is niemand onvervangbaar nie.

Jack Russl ·

Ek stem 100% saam met jou.

Ons sal seker nie weet wat die regte rede is hoekom AB afgetree het nie. Daar is seker meer agter as wat ons dink.

Maar om te kies waneer jy jou land wil verteenwoordig en waneer nie is nie reg nie. Hy het hom vir sekere reekse beskikbaar gestel en vir ander. Toe is ewe skielik weer terug en ‘n jaar voor die wereld beker is hy sommer weer klaar. Elke keer moet ‘n speler wat opreg wil speel sy plek opgee vir iemand wat net nou en dan wil speel

koos ·

Juandre asseblief kyk net bietjie dieper voor jy sulke stellings maak: AB het net 6 van sy span se 12 ligawedstryde gespeel in die BPL. Hy het nog lekker vakansie gehou en laat gegaan en die span se 7de wedstryd was sy 1ste wedstryd. Die span waarvoor hy speel is nou in die uitspeel rondtes en hy is weer by die huis. In die Pakistan reeks gaan hy letterlik net 2 of 3 wedstryde speel wat so in die nuus noteer is. So aan almal: Ja hy is moeg en ja hy spandeer baie tyd saam met sy famile en ja hy speel net wanneer hy wil en ja hy word baie betaal as hy speel (en hy kom ooreen voor hy begin oor hoeveel wedstryde hy beried is om te speel). Klink vir my na ‘n goeie plan.

Juandre ·

Daar slaan jy die spyker op die kop, hy speel wanneer dit hom pas. Dit is presies wat hy gedoen het met die Proteas, hy het voorgeskryf waar en wanneer hy wil speel. Klink vir my eerder na iemand wat dinge doen soos wat dit hom pas. Gaan maar AB daar waar die geld jou roep. Dink net aan ‘n beter verskoning om te sê jy was moeg gewees, sê dan eerder reguit ek wil gaan speel om my bankbalans te vermeerder. Dit is presies wat ons rugbyspelers ook doen hulle gaan speel in Japan of Europa om hulle rugby te “verbeter” dit is net vir die geld. Baie sportmanne vandag skryf voor aan almal.

Anel ·

Juandre, is jy nie dalk jaloers op AB nie? Hy kán krieket speel én groot geld verdien met sy talent, en jy nie?

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.