Akademiese skryfvaardighede: Konjunksiemerkers

notaboek_pen_vuurvreters_pixabay.jpg

Argieffoto (Foto: Pixabay)

Deur dr. Stefan van Zyl

In my vorige twee blogs in die reeks oor akademiese skryfvaardighede het ek gefokus op akademiese bronne, bronverwysings en die bronnelys. In hierdie aflewering skryf ek oor ʼn belangrike strukturele komponent van enige akademiese teks, naamlik konjunksiemerkers (ook diskoersmerkers, verbandsmerkers en meer onlangs pragmatiese merkers genoem). Ek steun in hierdie blog veral op VivA-kollega Nadine Fouché-Karsten se akademiese artikel “Carstens se raamwerk van Afrikaanse konjunksiemerkers: ʼn akkurater en vollediger weergawe” (2017) waarin sy, dr. Ria van den Berg en prof. Jako Olivier breedvoerig oor konjunksiemerkers skryf.

Wat is konjunksiemerkers?

Die volgende definisie is aangepas uit prof. Johann van der Walt van die Noordwes-Universiteit se 2010-werkboeke vir basiese en gevorderde vaardighede in akademiese geletterdheid:

Konjunksiemerkers in akademiese tekste is woorde of uitdrukkings wat gebruik word om sinne en paragrawe te struktureer ten einde sekere idees of gedeeltes in ʼn teks met mekaar in verband te bring.

Sodanige woorde of uitdrukkings is die basiese boublokke wat gebruik word om ʼn logiese akademiese argument in ʼn akademiese teks te ontwikkel, en samehang in sodanige teks te bewerkstellig. Dit is daarom uiters nuttig om altyd tydens die skryf van ʼn akademiese teks ʼn lys van konjunksiemerkers byderhand te hou of dit selfs te memoriseer.

Wat is die funksies van konjunksiemerkers in akademiese tekste?

Prof. Wannie Carstens gee in Afrikaanse tekslinguistiek: ʼn inleiding (1997) die volgende funksies van konjunksiemerkers (deur my aangepas vir akademiese tekste):

  • Dit dui ʼn verandering in die onderwerp aan.
  • Dit berei die leser voor op die aard van die daaropvolgende teksgedeelte.
  • Dit brei die onderwerp uit.
  • Dit dui argumentering aan.
  • Dit dui die opinie van die skrywer aan.
  • Dit lei nuwe interessante inligting in.

Watter soort konjunksiemerkers word onderskei?

Fouché et al. (2017) gee ’n tabel (deur my aangepas vir akademiese tekste) met die hoofkategorieë en subkategorieë waarin konjunksiemerkers verdeel word, sowel as voorbeeldwoorde. Klik hier om die volledige dokument en tabel in .pdf-weergawe af te laai.

Ander konjunksiemerkers:

Van der Walt (2010) gee ook ander konjunksiemerkers (deur my aangepas in tabelvorm). Klik hier om die volledige dokument en tabel in .pdf-weergawe af te laai.

Hoe word konjunksiemerkers in akademiese tekste aangewend?

Vervolgens gee ek twintig voorbeelde van maniere waarop konjunksiemerkers in akademiese tekste aangewend kan word. Daar is helaas nie ruimte in hierdie blog om ʼn voorbeeldsin vir elke konjunksiemerker te gee nie, maar studente behoort algaande die konsep en toepassing daarvan te snap.

  • Die dekadensie was naamlik agteruitgang en verwording wat met oordaad en skoonheid bedek is.
  • Die kabaret is ingestem op vertroulikheid, met ander woorde, intimiteit.
  • By sommige ouerwordende skrywers gebeur soms die teenoorgestelde deurdat daar juis ʼn toenemende toekeer na die gewoon aardse is. ʼn Voorbeeld hiervan in die Afrikaanse letterkunde is N. P. van Wyk Louw se Nuwe verse (1954) en Tristia (1962).
  • Ook hierdie studie plaas op eksperimentele wyse ʼn gerontologiese lens oor die literêre tekste van Hennie Aucamp ten einde eerstens die literêre werke van Aucamp beter te verstaan en tweedens om ʼn beter begrip te verkry wat die veroudering van mense betref, sowel as om insig in die leefwêreld van die senior te bekom.
  • Voorts bied ʼn studie in Afrikaans die geleentheid om bronne wat slegs in Engels beskikbaar is, te ontleed en die vakterminologie te vertaal ten einde ʼn bydrae tot die korpus akademiese navorsing in Afrikaans te lewer.
  • Vervolgens word die slothoofstuk aangebied waarin die belangrikste gevolgtrekkings en ʼn samevatting van die studie vervat word.
  • Benewens hierdie drie domeine onderskei Baars (2009) ook tussen drie temporele benaderings tot veroudering.
  • Die twee subdissiplines binne die gerontologie wat wel probeer om ʼn brug te bou tussen letterkundestudies en verouderingstudies is, soos genoem, die literêre gerontologie en narratiewe gerontologie.
  • Die eerste domein is ons bestaan as liggaamlike wesens wat ons aan ʼn natuurlike omgewing verbind wat van wêrelddeel tot wêrelddeel verskil en boonop aan die verander is weens menslike ingrypings.
  • Sodanige praktyke het die gemeenskaplike gedrag en die onderskeie strategieë gedefinieer wat beide mans moes volg ten einde aan die verhouding ʼn “beeldskone” vorm te gee – dit wil sê een wat esteties en moreel van aard is.
  • In dieselfde trant beskryf Randall en McKim (2004:252) die verband tussen literêre tekste en die werklikheid wat dit weerspieël.
  • Dit is belangrik om daarop te let dat dit hier nie ʼn geval van óf dekadensie óf ouderdom en veroudering is nie, maar dat die verbinding tussen die menslike liggaam en die dood spruit uit die dekadente sfeer.
  • Hierdie proefskrif baan ook die weg vir verdere studies oor Hennie Aucamp, hetsy oor hom as mens en skrywer of oor sy literêre en egodokumentêre werke.
  • Daar is volgens Ricoeur twee soorte tyd in elke storie: Aan die een kant is daar ʼn diskrete, oop en teoreties ongedefinieerde opeenvolging van insidente, en aan die ander kant bestaan daar ʼn temporele aspek gekenmerk deur integrasie, kulminasie en die doeltreffende einde wat aan die storie ʼn skema gee.
  • In hierdie romans word die ouerwordende karakters aan die genade van kulturele konstruksies oorgelaat. Nietemin plaas die tekste ook die liggaam sentraal wat weer herinner aan die beperkings van kulturele veroudering.
  • Laatwerke is, afgesien van die skrywer se ouderdom ten tyde van die produksie daarvan, “laat” in soverre dit die finale uitdrukking van ʼn grootse kreatiewe stem is.
  • Die ekstensiewe en diverse oeuvre van Hennie Aucamp word afgesluit met sy dood op 20 Maart 2014, en is derhalwe gereed om benader te word vanuit nuwe perspektiewe soos die gerontologie wat die bestudering van veroudering is.
  • Geprogrammeerde teorie stel dat selle sterf of ophou repliseer namate mense verouder.
  • Voorts is intergenerasionele verhoudings ook bestudeer, aangesien dit verband hou met die gerontologie soos dit neerslag vind in Aucamp se literêre tekste.
  • Wanneer veroudering slegs vanuit chronologiese perspektief benader word, sal die abstrakte aard daarvan die betekenisvolle inhoud van menslike veroudering wat nodig is om die fenomeen te verstaan, stroop.

Ten slotte

Dit is duidelik dat konjunksiemerkers onontbeerlik is vir die skryf van ʼn koherente akademiese teks en daarom moedig ek altyd studente aan om dit (oordeelkundig) in hul skryfwerk aan te wend. Benewens die feit dat konjunksiemerkers die leser deur ʼn akademiese teks begelei, help die afwisseling van verskillende konjunksiemerkers ook om die teks interessant te hou.

VivA-groete
Stefan

  • Stefan van Zyl verwerf in 2019 sy doktorsgraad in Afrikaans en Nederlandse letterkunde aan die Noordwes-Universiteit en werk tans as voltydse taalpraktisyn by die Departement van Hoër Onderwys, Wetenskap en Innovasie in Pretoria. Van Zyl is ook verbonde aan die Virtuele Instituut vir Afrikaans (VivA) as taalskrywer en -navorser.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.