
Geoffrey Makhubo, die uitvoerende burgemeester van Johannesburg. Hy is vroeër vandag dood. (Foto: Joburg Government)
Geoff Makhubo, Johannesburgse burgemeester, is Vrydag weens Covid-19-komplikasies dood.
Makhubo is vroeër vandeesmaand in ʼn hospitaal opgeneem nadat hy reeds in Junie positief vir die koronavirus getoets en aanvanklik in selfisolasie was. Sy kantoor het op 3 Julie aangekondig dat die burgemeester in ʼn hospitaal opgeneem is vir Covid-19-verwante komplikasies. Die stad het daarna ʼn beroep op inwoners gedoen om waaksaam te bly en infeksies te help voorkom.
Enice Mgcina, waarnemende burgemeester, het Makhubo se dood ʼn kort rukkie gelede bevestig.
“Ons het gehoop dat die uitvoerende burgemeester die virus sou klop en terugkeer werk toe om die stad te lei terwyl die pandemie, wat lewens en inkomstes verwoes, ons in die gesig staar,” het Mgcina gesê.
“Dit sou ongelukkig nie so uitwerk nie.”
Die stad het medelye met Makhubo se vrou, dogter, ma, familie, vriende en kamerade betuig.
Volgens Mgcina het Makhubo se familie gevra om ruimte gegun te word om oor hom te rou. Sy het mense ook gevra om nie by die burgemeester se huis bymekaar te kom nie.
Herman Mashaba, leier van Action SA, het reeds medelye met Makhubo se familie en die ANC betuig.
Shocked to hear of the passing of Johannesburg Mayor, Geoff Makhubo.
In these difficult times, we are reminded of how fragile life can be. Our shared humanity will always come before our politics.
My thoughts and prayers go to his family, friends, and colleagues in the @MYANC.
— Herman Mashaba (@HermanMashaba) July 9, 2021
Ook Leah Knott, die DA se koukusleier in Johannesburg, het sy familie vrede en berusting in ʼn moeilike tyd toegewens.
The first citizen of @CityofJoburgZA Executive Mayor Geoff Makhubo has passed away after being hospitalised a few days ago for his battle with #COVID19
It truly never ends. May his soul RIP! #GeoffMakhubo #MayorOfJoburg
— CATHERINE Constantinides (@ChangeAgentSA) July 9, 2021
Die nasionale polisiekommissaris, genl. Khehla Sitole, het vroeër vandag bevestig dat lt.genl. Sindile Mfazi, ʼn adjunk- nasionale kommissaris, Donderdag weens Covid-19-verwante oorsake dood is.
Die 59-jarige Mfazi was ʼn polisiebeampte met 39 jaar diens en het verskeie bestuursposte in die polisie beklee.
Hy is in Maart verlede jaar tot adjunk- nasionale kommissaris bevorder.
Sitole het Mfazi as ʼn leier bestempel wat verbind was tot die dien en beskerming van Suid-Afrikaners.
“Die polisie het een van sy betroubare, toegewyde en hoogs gerespekteerde leiers verloor. Lt.genl. Mfazi het deur sy voorbeeld gelei en die land met uitsondering tot sy dood gedien. Namens die polisiefamilie betuig ons ons diepste medelye met sy familie, vriende en kollegas.”
Meer inligting oor Mfazi se begrafnisreëlings sal later bekend gemaak word.