Byna 80 dié week in taxi-ongelukke beseer

Die ongelukstoneel in Sandton, Gauteng. (Foto: Netcare 911)

Ses taxi-ongelukke in verskeie provinsies het die afgelope week gesorg vir 79 beseerdes op die land se paaie. Vyf van die motoriste wat betrokke was in die ongelukke is ernstig beseer.

Vyftien mense is Vrydagoggend in ʼn ongeluk in Ekurhuleni in Gauteng beseer toe ʼn taxi teen die kant van ʼn motor in Daveyton gebots het.

Volgens Russel Meiring, woordvoerder van ER24, is nooddienste omstreeks 07:31 na die toneel op Du Randt-straat ontbied waar die insittendes van die taxi reeds uit die voertuig geklim en rondbeweeg het.

Die beseerdes is almal na nabygeleë hospitale vir mediese behandeling geneem.

Agt kinders, tussen agt en elf jaar oud, is Maandagoggend beseer toe die taxi waarin hulle gereis het teen ’n bakkie by die Hertz- en Rutherford-kruising in Vanderbijlpark in die Vaaldriehoek gebots het.

Nóg ʼn taxi-ongeluk in Vanderbijlpark het Dinsdagmiddag 17 mense beseer gelaat, van wie 15 kinders, tussen die ouderdomme van 10 en 16 jaar oud, is. Die taxi het teen ʼn bakkie gebots en omgeslaan, sê Meiring.

Niemand is ernstig beseer in dié voorvalle nie.

Die ongelukstoneel in Sandton, Gauteng. (Foto: Netcare 911)

Volgens Shawn Herbst, woordvoerder van Netcare 911, is 16 mense Woensdag vroegoggend in Gauteng beseer toe die bestuurder van ʼn taxi beheer oor sy voertuig op William Nicol-rylaan in Sandton verloor het. Die taxi het ’n paar meter van ʼn wal afgerol.

Vier van die taxi se insittendes is ernstig beseer in die voorval.

Later dié dag is 12 mense elders in die provinsie beseer toe ʼn bakkie en ʼn taxi op die R42 in Vereeniging gebots het. Een van die insittendes is ernstig beseer in die voorval.

Elf kinders, tussen die ouderdomme van vyf en agt jaar oud, is Donderdag op die R56 naby Pietermaritzburg in KwaZulu-Natal beseer toe ʼn taxi en ʼn trok teen mekaar gebots het.

Die bestuurders van die onderskeie voertuie is nie in die voorval beseer nie.

Die owerhede was vandeesweek op die onderskeie tonele om ondersoek in te stel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ʼn vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Kommentaar word ná 48 uur op ʼn artikel op Maroela Media gesluit. Kom kuier gerus verder op ʼn meer onlangse artikel.