Crusaders het reeds een hand op Super-beker

Braydon Ennor duik oor vir sy drie. Foto: Facebook.

ʼn Mens hoef g’n Nostradamus te wees om te sien dat die Crusaders weer vanjaar goed sal vaar in die Superrugby-reeks nie.

En ná vanoggend se sege van 43-17 oor die Highlanders in Christchurch sou jy beslis vir Siener van Rensburg glo as hy ’n honderd of so jare gelede voorspel het dat die Crusaders in 2019 wéér die Super-toernooi gaan wen.

Want sjoe, hulle het definitief sjampanje-rugby vanoggend teen hul Nieu-Seelandse vennote gespeel.

Met ’n groot bohaai wat rondom Ben Smith se 150ste wedstryd vir die Highlanders opgeskop is, het die ’Saders ná ’n stillerige eerste helfte die krane behoorlik in die tweede helfte oopgedraai om uiteindelik ses drieë teen die besoekers se twee te druk.

Smith het darem vir die eerste punte van die wedstryd gesorg toe hy in die tweede minuut van die wedstryd ’n drie gedruk het.

Maar die Crusaders het gespeel soos wat net die Crusaders kan, en anders as om laat in die tweede helfte net hul voorsprong te verdedig, het hulle nog drieë gesoek.

En kom ons wees eerlik: As die Highlanders – wat self met tye kookwaterrugby gespeel het só ’n groot drag slae teen Kieron Read se span kry – wat gaan hulle dan nie met Suid-Afrikaanse spanne later in die toernooi doen nie?

Die Lions speel juis ’n toerwedstryd in Christchurch.

Puntemakers:

Crusaders: Drieë: Braydon Ennor, David Havili, strafdrie, Sevu Reece, Mitchell Drummond, Will Jordan. Doelskoppe: Richie Mo’unga (3), Mitch Hunt. Strafskop: Mo’unga.

Highlanders: Drieë: Ben Smith, Josh Ioane. Doelskoppe: Ioane, Bryn Gatland. Strafskop: Ioane.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Frans C ·

Die Crusaders het gewen maar was gelukkig om nie vroër ‘n geelkaart te kry nie,na talle strafskoppe wat veral in hul kwartgebied toegeken is.’n Span wat werklik mi ‘n kans staan om hul te klop is die Sharks wat oor ‘n sterk pak beskik en genoeg skiet goed agterlangs het.

Ruben ·

Frans die sharks kan nie eers die bulle wen nie nou hoe sal hulle ooit n kans staan teen die crusaders

George in Bloem ·

SA spanne kan maar los. Beplan solank vir volgende jaar. Die Kiwis is ons spanne strate vooruit wat organisasie,tegniek en ontginning van nuwe talent en ander terreine betref. En natuurlik help die politieke inmenging en BEE spankeuses ook glad nie ons rugby nie. Dis nie meer lank nie dan loop die stadions leeg en borgskappe droog op want niemand hou daarvan om naweek na naweek te sit en kyk hoe ons spanne verneder word nie en die een pakslae na die ander op die lyf loop nie. Die skrif is aan die muur vir SA rugby.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.