Dag Zero: Datum skuif danksy waterbesparings

Argieffoto (Foto: RayMark, Pixabay)

Mmusi Maimane, leier van die DA, het Dinsdag bevestig dat “Dag Zero” met vier dae aangeskuif is danksy Kapenaars se waterbesparingspogings die afgelope paar dae.

Die Stad Kaapstad het voorheen gesê ʼn totale droogtekrisis sal Kapenaars op 12 April in die gesig staar – ʼn dag bekend as “Dag Zero” wanneer die stad se krane amptelik leeg sal loop.

“Danksy die waterbesparingspogings van talle Kaapstad-inwoners kan ek nou bevestig dat Dag Zero met vier dae aangeskuif is. Die dag is nou uitgestel tot op 16 April,” het Maimane gesê.

Hy het gesê vier dae “klink dalk nie soos baie nie”, maar dat dit ʼn “beduidende oorwinning” vir die stad is wat deur die droogte geteister word. “[Die aanskuif van Dag Zero] is ʼn bewys dat inwoners saam staan en hul watergebruik drasties verminder.”

Volgens Maimane is die stad se daaglikse watergebruik van 580 miljoen ℓ tot 540 miljoen ℓ verminder. Hy het gesê die stad sal moontlik Dag Zero heeltemal vryspring indien die daaglikse watergebruik tot 450 miljoen ℓ per dag verminder word.

“Terwyl ons hierdie week se vordering vier, doen ek ʼn beroep op inwoners om die veldtog Defeat Day Zero te ondersteun deur hul waterverbruik tot minder as 50 ℓ per persoon per dag te verminder,” het hy gesê.

Volgens hom kom lede van sy gesin al met net ʼn skrale 40 ℓ water per dag oor die weg.

Maimane het ook gesê die stad sal waarskynlik vroeg volgende maand ʼn ekstra 67 miljoen ℓ per dag tot sy beskikking hê te danke aan die water wat van die Palmiet-Kogelbergdam af aan die stad gebied gaan word.

Hy het gesê die waterdruk in die areas wat baie water gebruik sal binnekort drasties verminder word. “Inwoners sal in die volgende paar dae ʼn verlies in waterdruk vir groot dele van die dag opmerk. Diegene wat op hoërliggende gebiede geleë is of in woonstelblokke woon mag ook tydelik wateronderbrekings vir ure aaneen ervaar,” het hy gesê.

“Inwoners moenie skrik of paniekerig raak wanneer dit toegepas word nie, en moet vooruit daarvoor beplan. Dit vorm deel van die beplande vermindering in waterdruk as deel van ʼn poging van die stad om water te bespaar. Dit vorm ook deel van die groter plan om te verseker dat alle inwoners nog water het en dat ons Dag Zero kan oorwin.”

Maimane het gesê Dag Zero kan heeltemal vrygespring word met behulp van die toewyding van elke Kaapse inwoner in die komende dae.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.