Een dood, 32 beseer in ongeluk op kruising

’n Taxi en twee motors was by die noodlottige botsing betrokke. Foto: ER24

ʼn Man is Donderdagmiddag dood en 32 mense beseer in ʼn botsing tussen ʼn minibustaxi en twee karre op die kruising van die R511 en die N14 in Diepsloot, suid van Centurion.

Russel Meiring, ER24-woordvoerder, sê die ongeluk het net voor 13:00 gebeur. “Toe ER24 en talle ander nooddienste op die toneel aankom, het hulle die taxi langs die pad aangetref en … talle mense wat oor die toneel verstrooi gelê het.”

Terwyl die paramedici na pasiënte begin omsien het, het verkeersbeamptes die pad gesluit.

By nadere ondersoek is vasgestel dat een van die insittendes talle ernstige beserings opgedoen en geen tekens van lewe getoon het nie. Hy is op die toneel dood verklaar, sê Meiring.

Die 32 beseerdes, onder wie twee kinders, is op die toneel behandel vir beserings wat van gering tot kritiek gewissel het. Hulle is daarna na plaaslike hospitale vir verdere behandeling gebring.

Meiring sê die polisie was op die toneel om die oorsaak van die ongeluk te ondersoek.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.