Franse skrum Pumas, ander topspanne wen maklik

Jy moet kan skrum.

Dit was die les wat Argentinië Saterdagaand in Lille teen Frankryk geleer het toe die tuisspan die eerste keer sedert die Sesnasies-reeks en ná vyf neerlae weer aan die wenkant was.

Die telling in die ietwat teleurstellende wedstryd vol foute was 28-13 in die Franse se guns nadat hulle met rustyd net met 11-10 voor was.

Frankryk het die eens trotse skrumysters van wêreldrugby in dié faset sleg tweede laat kom, sodoende talle strafskoppe gewen en swak besit aan die Pumas gegee.

Miskien was dit hierdie skrumsiekte wat Argentinië agterlangs aangesteek het, want Nicolás Sánchez-hulle kon geen vloei aan die gang kry om volgehoue druk op die Franse toe te pas nie.

Die Franse se agterlyn het meer afgerond voorgekom en was ook in dié wedstryd gevaarliker op die aanval. Veral die senters Gael Fickou en Mathieu Bastareaud het die besoekers laat bontstaan en goeie verdediging van die Franse het die Pumas ná rustyd gedwing om minder met die agterlyn aan te val en meer op hoë skoppe staat te maak.

In die tweede helfte, ondanks ʼn beter vertoning van hulle voorspelers, kon die Pumas egter net ʼn enkele strafdoel aanteken.

Argentinië is ongetwyfeld ʼn beter span as wat dié vertoning aandui. Hulle het Saterdag, teen Skotland, die geleentheid om te wys dat hierdie ʼn afdag was en dat die Franse nie sommer moet aanvaar húlle is die gunstelinge vir die stryd in aanstaande jaar se Wêreldbeker-toernooi nie.

Dié twee spanne  is in dieselfde afdeling ingedeel.

Puntemakers ‒

Frankryk (11) 28: Drieë: Teddy Thomas (2), Guilhem Guirado. Doelskoppe: Baptiste Serin (2). Strafdoele: Serin (3).
Argentinië (10) 13: Drie: Ramiro Moyano. Doelskop: Nicolas Sanchez. Strafdoele: Sanchez (2).

Italië teen Australië

Die Wallabies het hul vierde wedstryd van die jaar gewen toe hulle Italië Saterdag in Padua met 26-7 geklop het.

Die Wallabies-afrigter, Michael Cheika, is die week wéér deur Australiese rugby verseker dat hy die span tot ná die Wêreldbeker-toernooi aanstaande jaar sal afrig. Nogtans sal hierdie vierde oorwinning uit 12 probeerslae vanjaar vir Cheika as verligting kom.

Dit was egter nie ʼn wafferse vertoning nie ‒ ondanks die aantal veranderinge deur Cheika om sy span se diepte te toets. Maar wie weet, dalk is dit net die hupstootjie wat hulle nodig het voordat hulle Saterdag op Twickenham teen Engeland speel.

Die Wallabies het allermins oortuig. Hulle was maklik in die lynstane baas, maar verspeelde kanse in kritieke stadia van die wedstryd deur Italië het die toerspan moontlik van ʼn neerlaag gered.

Twee drieë deur die vleuel Marika Koroibete, wat aanvanklik nie in die wedstrydgroep was nie, was aan Wallabies-kant die vernaamste ligpunt.

Puntemakers ‒

Italië (0) 7: Drie: Mattia Bellini. Doelskop: Tommy Allan.
Australië (14) 26: Drieë: Marika Koroibete (2), Taniela Tupou, Will Genia. Doelskoppe: Matt Toomua (3).

Wallis teen Tonga

Wallis, teen wie die Springbokke Saterdag in Cardiff in hul laaste toerwedstryd speel, sal hulle nie juis aan die Drake se reuse-oorwinning teen Tonga steur nie.

Warren Gatland het net ʼn enkele speler in sy beginspan behou van die vyftiental wat die vorige naweek ʼn drielose wedstryd teen Australië gewen het, maar Wallis se tweede bestes het Tonga Saterdag nietemin deeglik met 74-24 afgeslag nadat hulle rustyd net 24-17 voor was.

Trouens, die tweede bestes van Wallis was vier minute ná rustyd nog met 24-elk gelykop voordat hulle weggetrek en nog 50 punte in die oorblywende 36 minute bygevoeg het.

Wallis en Tonga het albei in die eerste helfte twee drieë gedruk, maar uiteindelik was die drietelling 10-3 in die guns van Wallis se naasbestes.

Ondanks Tonga se paar oomblikke van gehalte-rugby, hoort só ʼn wedstryd nie op die lys van uitsoek-wedstryde in die jaareind-reeks nie.

Puntemakers ‒

Wallis (24) 74: Drieë: Strafdrie, Dan Biggar, Liam Williams (2), Steff Evans, Tomos Williams, Tyler Morgan, Cory Hill, Aled Davies, Rhys Patchell. Doelskoppe: Biggar (4), Patchell (4). Strafdoele: Biggar (2).
Tonga (17) 24: Drieë: Leva Fifita, Sitiveni Mafi, Sione Vailanu. Doelskoppe: Sonatane Takulua (3). Strafdoel: Takulua.

Engeland teen Japan

Met sowat 20 minute van die wedstryd oor het Engeland se afrigter, Eddie Jones, seker getwyfel aan die wysheid om met 11 veranderinge aan sy span wat die All Blacks so byna getroef het, ʼn week later teen sy ou span te speel.

Wat Jones wel sou agtergekom het in die wedstryd waarin hy Engeland se diepte bepaal het, is dat daar ʼn verskil is tussen Nieu-Seeland se tweede bestes wat in Tokio met 69-31 teen Japan gewen het en Engeland se reserwekrag.

Rustyd was Japan met 15-10 voor, en Engeland kon eers ná 60 minute hul neuse ná ʼn doel met 20-15 voorkry.

Daarná het Engeland egter beheer oorgeneem en gewys dat die gaping tussen hul amperse tweede bestes en die wêreld se 11de beste span, nog aansienlik is. Dit word beklemtoon deur Engeland se vier drieë teen twee met Japan wat ná die 31ste minuut  nie weer kon punte aanteken nie.

Puntemakers ‒

Engeland (10) 35: Drieë: Danny Care, Mark Wilson, Joe Cokanasiga, Dylan Hartley. Doelskoppe: George Ford (3). Strafdoele: Elliot Daly, Ford (2).
Japan (15) 15: Drieë: Ryoto Nakamura, Michael Leitch. Doelskop: Yu Tamura. Strafdoel: Tamura.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.