Grayston-brug: Slotbetoë begin binnekort

Ineenstorting van die Grayston-brug (14 Oktober 2015) Foto: Arrive Alive

Die Kommissie van Ondersoek wat aangestel is om die ineenstorting van die Grayston-brug in Johannesburg te ondersoek, het alle mondelinge getuienis aangehoor en slotbetoë sal binnekort ingedien word.

“Die geskrewe slotbetoë moet teen 14 Augustus 2018 ingedien word,” het die departement van arbeid Vrydag in ʼn verklaring gesê. “Reaksies op geskrewe slotbetoë moet daarna teen 17 September 2018 ingedien word.”

Die ondersoek, onder leiding van Lennie Samuel, het talle vertragings beleef en is ʼn paar keer uitgestel sedert die eerste sitting in Februarie 2016. Die vordering was stadig en die publiek het kommer uitgespreek oor aanspreeklikheid.

Die brug by Graystonrylaan/M1 het op 14 Oktober 2015 ineengestort. Twee persone is dood en 19 is beseer.

Die departement het die kommissie aangestel kragtens die Wet op Beroepsgesondheid en Veiligheid om nalatigheid en nienakoming van wetgewing te ondersoek.

Getuies sluit ingenieurskenners, werknemers van konstruksiemaatskappye en omgewingsake-, gesondheid- en veiligheidsbeamptes in.

Murray and Roberts Infrastructure was die middelpunt van die ondersoek, aangesien dié maatskappy die hoofkontrakteur was wat deur die Johannesburgse ontwikkelingsagentskap aangestel is om die brug te bou.

Lees alle vorige berigte oor die Grayston-brug op Maroela Media.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.