Hoofstuk 1: Episode 2 – Renier Hugo

Episode 2

Renier Hugo

5 Verkenningsregiment se aandeel

5 Recce het vroeg Junie 1987 met ʼn ontplooiing begin teen ʼn dreigende offensief van ’n Fapla/Kubaanse mag vanuit Cuito Cuanavale. Ons het ontplooi met ons normale vegvoertuigmag, bestaande uit gemodifiseerde Unimogs en Casspirs, wat erg in die minderheid was in vergelyking met ons opponente, wat ʼn brigade sterk was.

Ons hooftaak was om die brigades op te spoor en ook om soveel vyandelike tenks en gepantserde personeeldraers as moontlik te vernietig, met die doel om die aanmars teen Mavinga en dan die hoofdoelwit, Jamba, stop te sit of te verhinder. Ons het ʼn paar klein onderonsies gehad en een of twee van die brigades gebombardeer met geringe tot goeie sukses.

Gedurende Augustus was ons suid van die Mianairivier ontplooi, met die vyand noord van die Viampolorivier. ʼn Element van 4 Recce het by ons aangesluit en toe hoor ons van hulle nuwe taak, om die brug oor die Cuitorivier, wat toe die hoof aanvullingsroete was van die vier brigades wat alreeds die rivier oorgesteek het, te vernietig. As ons die aanvullingsroete kon afsny, sou dit ʼn groot slag vir hulle wees. Daar is toe besluit dat ʼn 12-man duikspan noord van Cuito sou ontplooi, waarvandaan hulle eers met kajakke sou infiltreer en dan die laaste ent na die brug swem en hul ladings plaas.

Intussen sou ʼn span van 5 Recce per voertuig en te voet ontplooi en ʼn RV-punt in die rivier net suid van Cuito Cuanavale stig om die duikspan te herwin en daarna na ʼn veilige gebeid te onttrek, vanwaar die helikopters hulle sou kon oppik. Fred Wilke is in bevel van die duikspan, met Julius Engelbrecht in bevel van die RV-groep. Ek was as Julius se tweede-in-bevel aangestel en het ook die baie ervare Jim McGuire by my gehad. Ons het ook die gebieid nogal goed geken, aangesien ons alreeds ʼn paar maande daar in klein spanne ontplooi het.

Die ontplooing van die duikspan het redelik goed verloop, maar hieroor kan ek nie verder uitbrei nie omdat ek nie lid van hierdie groep was nie. Met ons ontplooing het dit egter nie te goed gegaan nie. Ons Unita-penetrasiegroep was aanvanklik in beheer van die navigasie na die RV, maar soos gewoonlik was hulle huiwerig om ons direk daarnatoe te neem. Ek het toe voorgestel dat ek en Jim die navigasie oorneem. Die beweging was moeilik, en ons moes deur baie moerasse stap, maar ons het by ons plan gehou: Jim het meeste van die navigasie behartig, en ek het hom ondersteun. Op ʼn stadium het Julius Engelbrecht gesê ons het verdwaal, wat nie goed afgegaan het nie, aangesien ons die bos en die area geken het, en op die ou end het ons hom na die presiese posisie geneem.

Ons stig toe die RV, wat bestaan het uit ʼn tou met “Lumi sticks” daaraan geheg, wat met ʼn Zodiac oor die rivier geneem is. Ons het ook ʼn luisterpos in die Zodiac aan ons kant van die rivier gestig. Ek kan nog onthou dat dit ek en Julius was wat in die Zodiac gesit het toe daar om en by 03:00 alle hel by die brug losgebars het, met ontploffings en geweervuur oral.

Ons het besef die duikers moes opgespoor gewees het en in die een of ander moeilikheid beland het, maar al wat ons kon doen was om te wag. Teen eerste lig moes ons onttrek na ʼn klein hoogtetjie waar ons ʼn uitsig oor die rivier gehad het, want Fapla-magte was oral aan die oorkant ontplooi – ons het selfs in ʼn klein kontak oor die rivier met hulle betrokke geraak, maar hulle het meer in die duikers belanggestel.

Ongeveer 12:00 het ons die eerste duikers om die draai in die rivier sien kom. Ons het vinnig rivier toe beweeg, en as ek reg onthou, het ons tien duikers herwin. Een van hulle was Fred, wat in die skouer gewond was. Ons het hom behandel en een Zodiac vernietig en die masjien in die rivier gegooi. Daar is toe besluit dat ek en my span met Fred en die res van die duikers moet begin onttrek om Fred so spoedig moontlik in Rundu te kry vir beter mediese behandeling.

Ons het die middag begin onttrek; die SA-soldate het Fred gedra, want Unita het geweier om te help. Almal het gehelp dra, selfs die 4 Recce-duikspan, wat alreeds ʼn baie lang swem agter die rug gehad het. Ek het genavigeer en het aanvanklik vinnig suid begin beweeg, want daar was baie MI-24 en MI-17 helikopters in die lug, op soek na ons.

Op ʼn stadium het ek gedink hulle het ons opgespoor toe twee MI-24s vir ʼn lang tyd bokant ons gesirkel het. Dit was suiwer geluk dat ek betyds gesien het dat ʼn Unita-soldaat ʼn RPG-7 op een van hierdie monsters rig, gereed om te vuur. Ek het hom byna katswink geslaan, want dit sou selfmoord gewees het. Ek het toe besef die helikopters ontplooi stopgroepe op ons ontsnaproete, en besluit om oos te beweeg.

Ons het regdeur die nag gestap en die Vimpolorivier oorgesteek, toe vinnig direk suid beweeg en die Mianairvier teen eerste lig oorgesteek. Ons het toe opgelê en ʼn landingstrook vir die helikopters voorberei vir ontrekking daardie aand. Intussen is Anton Beukman en Les Wessels ook herwin deur die RV-span, wat vir hulle gewag het. Ek onthou nog hoe hulle my vertel het hoe Jim geswem het om Anton te gaan help. Anton was lelik deur ʼn krokodil gebyt. Hy is behandel vooordat hulle met hul onttrekking begin het. Hulle het na ʼn ander RV as ons sʼn gestap.

Die helikopters het Fred en sy duikers opgelaai en na Rundu gevlieg, en as ek reg onthou is Anton-hulle ook opgepik en na Rundu geneem. Die helikopters het toe teruggekeer en my span kom haal, en daarna het ons Julius en sy span gaan kry. Daarna is ons na Mavinga gevlieg, om weer by ons ander magte aan te sluit en met ons oorspronklike taak voort te gaan.

Een Zodiac-masjien is agtergelaat waar Julius opgepik is, en die snaakse ding is dat hierdie einste masjien ʼn paar maande later by die HSI-basis in Rundu sy verskyning gemaak het, waarna hy uiteindelik aan 4 Recce terugbesorg is.

Nodeloos om te sê het die 4 Recce-kêrels hulle medaljes vir dapperheid, wat hulle verdien het, ontvang. Ek is egter van mening dat daar daardie aand baie helde was, maar vir ons was dit waarvoor ons opgelei is, en ons het ons werk gedoen.

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.