In Kempton Park word stadsboere se drome waar

By die Urban Farmers’ Market stal die uitstallers hulle ware tussen die tonnels uit. (Foto: urbanfarmersmarket.co.za)

Heelwat stedelinge wil graag boer, maar grond is nie een van die kommoditeite wat die stad geredelik bied nie. Die klein lappies grond wat wel beskikbaar is maak dit haas onmoontlik vir dié aspirantboere om hulle drome te verwesenlik.

Die Covid-19-inperking het die saadjie geplant om die landboudrome vir ʼn klomp stedelinge ʼn werklikheid te maak – en dit in die hartjie van Kempton Park.

Jaco Erasmus het vroeg verlede jaar, met die aanvang van die inperking, besluit om ʼn paar groentesoorte in sy agterplaas te plant. Ná ʼn suksesvolle eerste oes besluit hy toe om sy onderneming uit te brei, maar hy het nie toegang tot genoeg grond gehad om sy nuutgevonde stokperdjie op groter skaal voort te sit nie.

Hy het gou agtergekom dat daar ander stedelinge met soortgelyke aspirasies is en so het hy besluit om ʼn groter stuk grond te bekom en ʼn hele paar tonnels op te rig wat hy aan hulle verhuur.

Dít was die begin van die Urban Farmers, waar Jaco, soos hy dit stel, met boere boer. Hy meen die tonnels bied die ideale geleentheid vir stedelinge wat graag volwaardige boere wil word om dit eers op ʼn kleiner skaal op die proef te stel en sodoende bekostigbare foute te maak en waardevolle lesse te leer.

Die Urban Farmers-onderneming het intussen aansienlik uitgebrei en tans bied Jaco verskillende huurpakkette en stel verskillende tonnels beskikbaar. Hy kan ook met gesag praat oor watter gewasse verbou kan word, die moontlike afsetmarkte vir oeste en bied ook opleiding en raad om seker te maak dat boere suksesvol kan wees.

Dit is nie net toeganklik vir almal nie, maar daar word ook gehelp met die skep van afsetmarkte vir die stadsboere se varsprodukte, soos die Urban Farmers’ Market, ʼn boeremark wat een keer per maand op Saterdae gehou word.

Die konsep het behoorlik posgevat en vandag werk die stadsboere saam en ondersteun mekaar en benut die goeie infrastruktuur wat die Urban Farmers geskep het ten volle.

Die sanger en musikant Ruhan du Toit het onlangs saam met Corné Liebenberg, bemarkingsdirekteur van Laeveld Agrochem, ʼn Nisboere-episode vir dié TV-program op VIA by Jaco en die Urban Farmers geskiet. Dit is juis tydens een van die Urban Farmers’ Market-dae verfilm waar hulle ook by verskeie boere uitgevind het wat hulle in hul tonnels verbou.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Harley Davidson ·

Puik,hierdie is uitstekend en meer en meer mense moet die inisiatief begin ,stig ook afset punte vir boere om hulle produkte te verkoop,sny die wins koning middelman uit en gee van die besparing terug aan die koper dis ‘n wen wen vir almal.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.