Internasionale oorsig: Moord op president dompel Haïti in nog groter krisis

Die oorlede president van Haïti, Jovenel Moise. (Foto: Alex Wong/Getty Images/AFP)

Die armste land in die Amerikas, Haïti, is Woensdag in nog ʼn groter krisis gedompel toe dié land se omstrede president, Jovenel Moïse, in die middel van die nag in ʼn goed beplande aanval by sy privaat woning vermoor is. Moïse se vrou is ernstig gewond en word in ʼn hospitaal in Miami, Florida, behandel.

Die aanvallers wat hulleself as lede van die Amerikaanse Drug Enforcement Administration (DEA) voorgedoen het, het Moïse se huis binnegedring en hom en sy vrou geskiet. Intussen het die land se waarnemende eerste minister, Claude Joseph, gesê dat verskeie van die aanvallers deur die land se veiligheidsmagte doodgeskiet of gevange geneem is en dat hulle na nog betrokkenes soek. Die aanvallers was blykbaar almal van Colombia en die VSA afkomstig. Haïti se grense is gesluit en ʼn noodtoestand is afgekondig.

Daar heers ʼn gevaarlike magsvakuum in Haïti met Joseph wat tans leiding gee. Moïse het minder as 24 uur voor sy dood aangekondig dat hy Joseph met ʼn ander politieke bondgenoot, Ariel Henry, as eerste minister vervang. Henry is egter nie voor Moïse se dood ingehuldig nie. ʼn Tweestryd tussen Joseph en Henry is reeds aan die broei.

Sedert ʼn ernstige aardbewing Haïti in 2010 getref het, strompel dié arm land van die een krisis na die ander voort. Dit is ook nie asof die land voor die aardbewing sonder probleme was nie, maar die verwoestende aardbewing wat tot die dood van meer as 300 000 mense aanleiding gegee het, het die politieke en ekonomiese onstabiliteit in Haïti net verder vererger.

Derduisende mense het ook oor die afgelope tien jaar die land probeer verlaat, van wie baie reeds die VSA probeer binnekom het deur onwettig die grens tussen Mexiko en die VSA oor te steek.

Die 53-jarige Moïse was sedert Februarie 2017 president van Haïti. ʼn Verkiesing wat al verlede jaar in dié land moes plaasvind, is gereeld uitgestel en sou later vanjaar plaasvind. Die afgelope maande was daar groot betogings teen Moïse se bewind en heelwat ernstige bewerings van bedrog is teen hom gemaak.

Politieke krisisse is niks nuuts in Haïti nie en dié land word reeds sedert dit in die vroeë 1800’s onafhanklik van Frankryk geword het deur staatsgrepe, politieke onstabiliteit, buitelandse besettings, bendegeweld en geweldige armoede gekenmerk. Die moord op Moïse die afgelope week sal waarskynlik net die land se reeds ernstige probleme verder laat verdiep.

Dit hou egter nie goeie nuus in vir buurlande in die Karibiese streek en vir lande verder noord soos Mexiko en die VSA nie. Terwyl duisende mense Haïti maandeliks verlaat om die VSA te probeer bereik, is die land ook deel van ʼn smokkelroete vir gevaarlike dwelmmiddels uit Suid-Amerika na die VSA.

Ethiopië verval in groter krisis

Kinders speel in ‘n straat in Gondar, Ethiopië. (Foto: Eduardo Soteras/AFP)

Vyf miljoen van die ses miljoen mense wat in die noordelike Tigray-streek van Ethiopië woon, het tans noodsaaklike middele soos voedsel van buite nodig. Sowat 30 000 kinders in die gebied word reeds deur hongersnood geraak, en vrese bestaan dat duisende mense, veral kinders, van honger kan sterf indien internasionale hulporganisasies nie toegelaat word om in die streek te werk nie.

Die eerste minister van Ethiopië, Abiy Ahmed, het verlede week gesê dat sy regering weens humanitêre redes ʼn tydelike skietstilstand in Tigray ingestel het. In werklikheid het die separatiste groepe in Tigray wat reeds langer as ses maande teen die federale regering veg, daarin geslaag om Ethiopiese soldate uit dele van Tigray te verdryf en om weer beheer oor die hoofstad van Tigray, Mekelle, oor te neem.

Sedertdien versper die weermag tot groot mate toegang tot die streek, en drie personeellede van ʼn internasionale mediese hulporganisasie is onlangs vermoor toe hulle die Tigray-streek wou bereik. In ʼn toespraak op 25 Junie het Ahmed hulporganisasies daarvan beskuldig dat hulle ʼn verskuilde agenda het en die rebellemagte ondersteun.

Ahmed het in 2019 die Nobelprys vir Vrede gekry vir sy werk om vrede tussen Ethiopië en sy buurland Eritrea te bewerkstellig. Sedertdien tree hy egter toenemend outoritêr op en is daar toenemend beroepe dat die internasionale gemeenskap groter druk op Ahmed en sy regering moet plaas.

Nadat die federale verkiesing in Ethiopië eers uitgestel is, het dit uiteindelik op 21 Junie plaasgevind, maar kiesers in Tigray en nog enkele ander streke wat tans konflik ervaar, kon nie deelneem nie. Ahmed se nuwe politieke party, die Welvaartparty, het die verkiesing op 21 Junie gemaklik gewen, maar ernstige vrae bestaan daaroor of die verkiesing regverdig was. Die blote feit dat kiesers in 97 van die land se 547 kiesafdelings nie kon stem nie, plaas ʼn groot vraagteken agter die verkiesingsuitslag.

Afgesien van die stryd tussen Ahmed se regering en die afgesette streeksregering van Tigray was daar die afgelope tyd ook ʼn toename in konflik en geweld in ander dele van die land. Heelwat hiervan hou verband met Ahmed se planne om die land se politieke stelsel te hervorm en sy politieke herskikkings wat die invloed van sommige partye en etniese groepe wesenlik verminder het.

Ethiopië het in 1992 ʼn model- federale grondwet aanvaar waarvolgens die land in nege etniese state en twee multi-etniese state (in twee groot stede) verdeel is. Heelwat mag word in die regerings van die onderskeie state gesetel. Ahmed is bekend daarvoor dat hy ten gunste van groter sentrale mag is en dat hy wil wegdoen met die land se sterk federale karakter. Dit veroorsaak groeiende spanning tussen sy regering en verskeie streeksregerings.

Die stryd tussen die federale regering en die mense van Tigray is slegs ʼn voorloper van wat moontlik regdeur Ethiopië kan gebeur indien Ahmed sou voortgaan om streeksregerings van hulle magte te probeer ontneem.

Hoewel Ahmed veral in sy eerste twee jaar as eerste minister, nadat hy in 2018 verkies is, groot lof gekry het vir sy vredespogings met Eritrea en sy verbintenis tot demokratiese verkiesings vir die hele Ethiopië, is sy onlangse optrede uiters kommerwekkend en stuur dit die land geleidelik in die rigting van ʼn hernude burgeroorlog.

Intussen word Ahmed se regering sterk veroordeel omdat internasionale hulporganisasies se toegang tot die Tigray-streek deur die regering versper word. Daardeur verloor hy selfs meer internasionale steun. Waar Ethiopië slegs enkele jare gelede as ʼn modelland in Afrika voorgehou is, vergroot die kanse nou vir dié land om in groot konflik en onstabiliteit te verval.

Colombia begin ook weer in konflik terugsak

ʼn Betoger wat deel is van die protesaksie teen die regering in Bogota, Colombië, in 2019.  (Foto: Fernando Vergara, AP)

Die noordelike deel van Suid-Amerika en die nabygeleë lande van Sentraal-Amerika en die Karibiese See is bekend as ʼn uiters onstabiele streek wat oor dekades heen berugtheid verwerf het as van die gewelddadigste streke ter wêreld.

Terwyl Venezuela die afgelope paar jaar grootliks in duie gestort het en die VSA onlangs sy kommer uitgespreek het oor die sogenaamde noordelike driehoeklande, Guatemala, El Salvador en Honduras, is Colombia ook weer besig om in groter konflik te verval.

Verlede Vrydag is die helikopter waarin pres. Iván Duque oor die noordelike Norte de Santander-streek gevlieg het, vanaf die grond met geweervuur aangeval. Die helikopter kon veilig land en niemand is beseer nie.

Die regering in Colombia het in 2016 ʼn groot deurbraak gemaak toe ʼn vredesooreenkoms met die grootste rebelle-terreurgroep in die land, FARC, gesluit is. Die afgelope jaar het 40% van dié groep se lede egter weer die wapens opgeneem en geweld in die noorde van Colombia neem skerp toe namate FARC en ander terreurgroepe hulle aktiwiteite in dwelmproduksie en dwelmhandel voortsit.

Duque se gewildheid het die afgelope tyd skerp afgeneem, en hoewel daar aanvanklik groot verwagtinge vir sy presidentskap was, is sy planne om misdaad in sy land hok te slaan ook besig om in vlamme op te gaan. Verlede naweek is minstens nege mense in dwelmverwante terreur in dié land dood.

Wat die situasie vererger, is die onstabiliteit in Venezuela. Dié twee lande deel ʼn lang grens, en Duque beskuldig groepe in Venezuela van die aanval op sy helikopter verlede week.

Byna 30 000 mense moes reeds vanjaar uit hulle huise vlug weens die geweld in die noorde van die land. Die regering se planne om boere aan te moedig om op te hou om met die kokaplant, waaruit kokaïen gemaak word, te boer en na ander gewasse oor te skakel, het ook misluk, en die grootste koka-oes in die geskiedenis van Colombia is verlede jaar gelewer.

Met ʼn regering wat reeds ernstige fiskale druk asook groot politieke frustrasie ervaar, en wat met ʼn florerende dwelmhandel te kampe het, lyk dit nie of die toenemende geweld en konflik in Colombia vinnig gestuit gaan word nie. Daar is eerder ʼn goeie kans dat die land verder in konflik kan verval.

Hierdie plasing is deur ’n onafhanklike persoon of onderneming saamgestel. Die menings en standpunte wat in hierdie skrywe uitgespreek word, is nie noodwendig die beleid of standpunt van Maroela Media se redakteurs, direksie of aandeelhouers nie. –Red

Meer oor die skrywer: Jaco Kleynhans

Jaco Kleynhans is hoof van internasionale skakeling vir die Solidariteit Beweging.

Deel van: Meningsvormers

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.