Kolwers het steeds geen antwoorde op draaiers se vrae

Nauman Ali het 5/35 in die Proteas se tweede beurt geneem. Foto: Twitter.

As ’n Protea-krieketondersteuner is ’n mens normaalweg heel gerus wanneer die land se kolwers snelboulwerk op die wêreld se kolfblaaie trotseer.

Ja, iemand soos ’n Devon Malcolm het weliswaar in 1994 vir ’n klomp probleme gesorg toe hy 9/57 teen die Proteas op die Oval in Engeland geneem het, maar die kolwers kan darem met gemak dryf- en haakhoue van snelboulers speel.

Dit is egter wanneer die teenstanders se kaptein die bal na ’n draaier gooi – en hy hoef nie eens baie goed te wees nie – waar jy sommer met die blote oog ’n verskil in die kolwers se liggaamshouding kan sien.

Die kragtige dryfhou vanaf die voorvoet, wat skaars ’n boulbeurt vantevore die bal met minagting na die grens van ’n snelbouler se boulwerk gejaag het, word deur ’n senuweeagtige blokhou vervang.

Om hierde metamorfose in WhatsApp-skryfstyl te beskryf: Die Proteas se kolfwerk verander van ’n selfversekerde “HAHA” na ’n skaam tiener se “hehe” die oomblik wanneer ’n draaier sy verskyning op die toneel maak.

En in die afgelope toets in Karatsji was dit nie anders nie.

Die tuisspan se Yasir Shah en Nauman Ali het 14 van die 20 Protea-paaltjies tussen hulle gedeel en hulle het gereeld vir ’n kolfineenstorting gesorg.

Ali – wat op 34-jarige ouderdom sy buiging vir Pakistan gemaak het – spog met ’n boulontleding van 5/35 in die Proteas se tweede beurt.

Moet egter nie dink dat dit slegs die stertkantkolwers is wat teen draaiboulwerk sukkel nie.

Dean Elgar, Aiden Markram, Faf du Plessis, Quinton de Kock en Temba Bavuma het almal in een van die twee beurte hul paaltjie teen draaiers verloor.

Kommentators soos Wasim Akram en Ramiz Raja het almal opgemerk dat die Proteas eerder kolf om te oorleef as om te probeer om die boulers op die agtervoet te plaas.

Een ligpuntjie was Markram (74) wat sy eerste vyftigtal in tien probeerslae in Asië aangeteken het.

“Hierdie is net ’n klein treetjie in die regte rigting. Daar is baie dinge wat ek nog in hierdie toestande moet leer,” het Markram gesê.

“Daar is baie kere waar ons kolwers hul staal met sukses op groen mambas gewys het. Ons sal iets soortgelyks hier moet doen. Ons het nou gesien hoe Pakistan op hierdie blaaie te werk gaan.”

Of hulle iets geleer het in die afwesigheid van ’n gesoute kolfwerk-mentor soos Jacques Kallis, sal op 4 Februarie in Rawalpindi beantwoord word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.