Krieket: Nuweland se toets vol onsekerhede

Faf du Plessis (Foto: AP Photo/Rick Rycroft)

Daar sal maar tot Vrydagoggend voor die loting gewag moet word om te verneem wat die Proteas se afrigter Otis Gibson se siening van die kolfblad, die toets, en die Proteas se span is.

Die eerste toets tussen Indië, wat eerste op die wêreldranglys is, en die Proteas wat tweede is, behoort van Vrydag af die toon vir die verwagte taai reeks te stel.

Maar daar is vele onsekerhede, selfs inaggenome Indië se swak rekord. Hulle het in 17 toetse sedert 1992 nog net twee oorwinnings behaal.

Die onsekerheid oor die kolfblad, wat wel heelwat gras op het soos Suid-Afrika versoek het, is een van die onbepaalde onsekerhede.

Die Proteas se kaptein Faf du Plessis is tevrede dat hulle die kolfblad kry waarvoor hulle gevra het.

Maar: Is die groen laag kunsmatig teweeg gebring; met ander woorde, sal die beloofde blad vir die vinnige manne die kolwers regtig laat rondtrap? Of sal Nuweland se kolfblad soos in die verlede weer sy eie onverwagte streke uithaal en verskil van wat hy in die vorige toets opgelewer het?

En sal daar weer op dag drie skielik hulp aan die draaiers wees pleks van, soos al gebeur het, ʼn  tweede asem vir die snellers?

En hoe gaan die wind sake bewimpel? Dit kan vir ʼn man soos Vernon Philander van groot belang wees oor hoe die wind waai.

Gibson kan sewe kolwers, insluitende Quinton de Kock as paaltjiewagter, kies met net drie snellers en die draaier Keshav Maharaj.

Of hy kan waag met vier snelboulers en Maharaj? Of hy kan dalk net op drie snellers, Maharaj en ʼn veelsydige speler, Andile Phehlukwayo of Chris Morris saam met ses kolwers besluit.

Bostaande is blote bespiegelinge en die opweeg van opsies. Die realiteit is dat Indië baie hard met hulle voorbereiding gewerk het om die toestande en die wind en weer te probeer verstaan – en hierdie harde werk is vreemd aan Indië.

Die Proteas, daarenteen, het ʼn bietjie tyd by hul gesinne deurgebring en ʼn dag later as geskeduleer met hul voorbereiding begin.

Die wedstryd begin 11:00.

Die sessies is soos volg:
10:30-12:30; 13:10-15:10; 15:30-17:30

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

3 Kommentare

Lions ·

GELUKKIG het die Proteas klaar voorbrand gemaak vir n verloor – “beserings; die droogte; te veel krieket” en en en. Ind is nie Zim nie boys

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.