Leesinisiatief by skool skakel huiswerk uit, wakker liefde vir boeke aan

‘n Laerskool Rustenburg leerder met haar skootboek. (Foto: Laerskool Rustenburg)

Om ʼn liefde vir lees by leerders aan die Laerskool Rustenburg aan te wakker, ná ʼn besluit om huiswerk in 2016 af te skaf, het die skool sy spesiale inisiatief genaamd #TopLesers van stapel gestuur. Dit word nou elke kwartaal aangebied.

“Ons kry terugvoer van ouers wat sê hul kinders het nooit ʼn boek in hul lewe gelees nie, maar dieselfde kinders kan nou nie genoeg kry van lees nie,” vertel René Schoombee, die skool se bibliotekaris, aan Maroela Media.

Wat haar die meeste verbaas, sê Schoombee, is die aantal seuns wat aktief deelneem aan die projekte. “Die mite dat seuns nie lees nie is beslis hokgeslaan deur die aktiewe deelname van ons seuns.”

Die leesprojekte se doel is om leerders te motiveer om smiddae boeke te lees. Dus verwag die skool dat elke leerder, in plaas van huiswerk doen, 20 minute aan ʼn boek bestee.

Die skool het besluit om huiswerk af te skaf ná die Primêre Skool Sun Valley in Kaapstad die eerste skool in die land was om dié stap te doen. “Kosbare tyd het verlore gegaan in die klaskamer wanneer onderwysers eers kinders moes aanmaan oor huiswerk wat nie gedoen is nie; dié tyd word nou benut om die leerders op ʼn kreatiewe en innoverende manier te onderrig.

“Smiddae kan die leerders dit wat hulle geleer het weer nagaan, leer vir speltoetse, of somme oefen, sonder die druk van onnodige take en werksopdragte wat geen sinvolle bydrae tot die leerervaring lewer nie. Terloopse aanleer en die uitleef van verantwoordelikheid vind plaas,” sê Schoombee.

As deel van die #TopLesers-inisiatief het die skool ook talle projekte van stapel gestuur, waaronder Lees Bingo, wat aktiwiteite soos lees langs die swembad, langs die rugbyveld, vir jou juffrou, jou troeteldier, en so meer insluit.

‘n Laerskool Rustenburg leerder met haar skootboek. (Foto: Laerskool Rustenburg)

Leerders word ook aangemoedig om gediggies te skryf oor lees (wat saam met ʼn foto van ʼn leerder geplaas word), asook boekmerk-boekresensies. Verder sluit dit projekte soos leespaspoorte, leesskattejag en skootboeke in.

ʼn Skootboek is ʼn projekboek wat leerders self moet maak waarin temaverwante inligting, prente of illustrasies verskyn. Dit is juis so genoem omdat die boek maklik op ʼn kind se skoot pas.

Die inligting wat  ʼn skootboek bevat, kan uitgetik of met die hand uitgeskryf word. Leerders versier dit kreatief deur prente te plak, te teken en ekstra items aan te bring wat die skootboek interessant maak. Die idee agter die maak van die skootboek is om die leerder die geleentheid te gee om ʼn boek fisiek te hanteer, inligting of die storie uit die boek te vind deur die boek te hanteer en te lees, hetsy self of saam met die ouer/voog.

“Die maak van die skootboek saam met mamma of pappa skep die geleentheid vir saam lees en leer op ʼn positiewe, kreatiewe manier. Sodoende word lees as ʼn lekker saamdoen-gesinsaktiwiteit ervaar,” sê Schoombee.

Laerskool Rustenburg het 1 540 leerders, maar deelname wissel van projek tot projek en by die grondslagfase neem tot 70% van die leerders deel, terwyl onder die ouer leerders, van gr. 4 tot 7, ongeveer 40% deelneem. “Ons glo wel dat die leerders aktief deelneem aan die leesinisiatief, en nie noodwendig altyd die projekte indien nie. Die hele skool het die Lees Bingo voltooi, asook die leespaspoort en skattejag. Die maak van boekmerke en skootboeke is deur minder leerders voltooi.”

‘n Laerskool Rustenburg leerder met sy skootboek. (Foto: Laerskool Rustenburg)

Die kinders wat kwartaalliks hul leesprojekte voltooi, word beloon en dit sluit ʼn balkie, armband, boekmerk, deurhanger, liniaal en magneet in. ʼn Teepartytjie word ook saam met die skoolhoof aangebied vir die leerders wat skootboeke ingedien het.

“Die opgewondenheid waarmee die leerders hul projekte kom aflewer by ‘Tannie René’ spreek boekdele oor die leerders se gevoel oor die leesinisiatief,” sê Schoombee.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

My mening ·

Wonderlik wat gedoen kan word as mens wil. So dankbaar vir sulke skole en die besonderse personeel.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.