Man, neef op kleinhoewe aangeval

plaas-polisie-veld

Argieffoto

ʼn 48-jarige man en sy 23-jarige neef is Maandagaand op ʼn kleinhoewe in Tembaniweg, Greenbushes, in Port Elizabeth aangeval.

Kapt. Sandra Janse van Rensburg, woordvoerder van die polisie, het gesê die neef het omstreeks 20:15 gelê en televisie kyk met oop deure toe drie aanvallers die huis binnekom. Volgens haar was een gewapen.

Die man en die neef was alleen op die plaas ten tyde van die voorval.

“Hulle het vir die neef gesê hy moenie ʼn geluid maak nie en het sy selfoon geneem. Hulle het na die slaapkamer gegaan waar die klaer was. Die neef het net drie skote en ʼn gil gehoor,” het Janse van Rensburg gesê.

Volgens haar het die neef toe glo ʼn byl na die aanvallers gegooi en hulle het op die vlug geslaan met die selfoon.

Die man is een keer in die linkerkant van sy bors gewond.

Hy is na die Livingston-hospitaal geneem vir mediese behandeling. Maroela Media verneem hy is tans in ʼn stabiele toestand in die hospitaal.

ʼn Saak van huisroof en poging tot moord word ondersoek.

Enigiemand met inligting oor die voorval kan Stop Misdaad by 0860 010 111 bel.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.