Mening: Die Curriebeker bly maar dié kompetisie

Die Haaie se Andries Strauss. Foto: Stringer/AFP.

Die Curriebeker-reeks is die oudste nasionale rugbykompetisie ter wêreld – die kroonjuweel van Suid-Afrikaanse rugby. Dit het in die toetsdroogte in die laaste dekades van die vorige eeu ons rugby sterk gehou en was, benewens die voorsiener van ware rugbyrillers, ook die teelaarde van vele Springbokke.

Dit blý maar dié kompetisie vir die ware rugby-entoesias, ongeag mense wat dit afkraak as ʼn tweederangse toernooi.

Ek het my eerste eindstryd in 1956 as negejarige in Durban sien afspeel. Schalk van Dyk het in die laaste oomblikke Noord-Transvaal se wenpunte aangeteken toe hy op die Kingsmead-krieketveld, voor die nou bekende Castle Corner, vanaf ʼn losskrum die wendrie gedruk het. Die telling was 9-8.

Sedertdien het ek as koerantman of toeskouer tientalle eindstryde bygewoon – deurskraap-wedstryde, heelparty waar individuele briljantheid die uitslag bepaal het; of sommer net lekker rugby wat bespreek word.

En die eindstryde was baie taai, hoewel daar ʼn paar groot tellings was. In 23 van die 56 eindstryde was die punteverskil minder as vyf punte (gelykopuitslae ingesluit), en in nog 13 was daar oorwinnings met 10 of minder punte.

Maar eers die agtergrond tot die kompetisie:

Curriebeker-skenking
Toe die eerste oorsese span, die Britse Leeus soos hulle later gedoop is, in 1891 in Suid-Afrika kom speel het, het hulle ʼn pragtige goue beker, geskenk deur die skeepsmagnaat Sir Donald Currie, saamgebring.

Dit moes oorhandig word aan die beste span teen wie hulle op die toer sou speel, met die opdrag dat dit daarna deur die SA Rugbyvoetbalunie vir kompetisiedoeleindes aangewend moes word.

Griekwas het net met 0-4 teen die Britte verloor en het die trofee ontvang.

Die toernooi-tydperk
Die Curriebeker, waarom daar in 1892 die eerste keer gespeel is, is in 12 seisoene tussen 1892 en 1921 op ´n sentrale toernooi gewen. ʼn Ligastelsel is gebruik om die toernooi se wenner te bepaal.

Die WP het 10 van die eerste 12 toernooie tot 1921 gewen, Griekwas die ander twee. Daar was weens die Anglo-Boereoorlog geen rugby van 1900 tot 1903 nie en die Wêreldoorlog het vir nóg ʼn Curriebeker-pouse tussen 1915 en 1920 gesorg.

Argieffoto.

Ligastelsel by die unies
Vanaf 1922 is wedstryde op die onderskeie unies se velde beslis en nie meer op ʼn sentrale veld tydens ʼn toernooi nie. Transvaal was die eerste wenner met dié stelsel (1922) en toevallig ook die eerste kampioen toe eindstryde in 1938 die eerste keer gespeel is.

Sedert 1939 is daar met twee uitsonderings eindstryde (van 1957-’59 is die Curriebeker oor drie seisoene, met ʼn eindstryd, beslis!) en sedert 1968 is daar jaarliks om die Goue Beker gespeel.

Individuele vertonings en uitblink-wedstryde

Daar was baie, maar dié bekendste individuele vertoning in die Curriebeker-reeks is seker die dag toe Frik du Preez teen die WP op Loftus, soos sy boesemvriend Mof Myburg dit beskryf het, “gedrop, geplace en gescore” het om die Ligbloues die taai stryd in 1964 met 28-13 te laat wen.

Maar wat van die dag toe Pierre Spies (senior) in 1975 ’n laaste, desperate vorentoe skop van Christo Wagenaar op sy vingerpunte gebalanseer het en toe die desperate duikslae van Gerrie Germishuys en Kleintjie Grobler ontduik het? Die bal het op een van die weinige droë kolletjies op die Vrystaatstadion-veld geland en toe gewip, anders as die meeste ander vroeëre skoppe.

Of die keer toe Noord-Transvaal, wat voor was teen Transvaal op Ellispark, in 1971 gelykop gespeel het? Die Ligbloues het pas met ʼn strafskop die voorsprong na 14-9 vergroot en speeltyd was verby.

Transvaal het afgeskop met toeskouers wat reeds op die veld gestorm het om hul helde af te dra. Die Bok-loskopstut Sakkie Sauerman het, ná skrumskakel Gert Schutte se breekslag van die afskop-losskrum af, tussen die toeskouers en die Ligbloues deur oorgeduik en Jannie van Deventer het verdoel – 14-elk.

Dis dié dag wat Frik gesê het “Die beste span het gelykop gespeel”.

♦ In 1974 was dit egter Transvaal wat die spit moes afbyt. Hierdie keer was dit ʼn allemintige skrum wat die Curriebeker gewen het.

Met vier minute se speeltyd oor, was die Ligbloues met 17-15 voor. Dit was Transvaal se skrum-ingooi feitlik reg voor die Noord-Transvaalse pale. Skopkoning Gerald Bosch het vir sy wenskepskop reggestaan en sy skrumskakel Paul Bayvel het reguit ingegooi toe skrums nog regverdig was.

Willie Kahts het egter met behulp van sy sterk vaskop Hans Weber die vaskopbal gehak en Transvaal se kans was daarmee heen.

Die Ligbloues se Naas Botha, die grootste wedstrydwenner in die geskiedenis van die Curriebekerkompetisie met die Vrystaat se skitterende heelagter Gysie Pienaar heel regs. Argieffoto.

Ligbloues se driemanskap

Tussen 1968 en 1978 het Noord-Transvaal onder Buurman van Zyl se afrigting, die kapteinskap van Thys Lourens en met die goue skopvoet van Naas Botha, sake oorheers.

Buurman van Zyl was vir 13 jaar, vanaf 1968 tot 1981 met die uitsondering van 1972 toe hy siek was, Noord-Transvaal se afrigter. Sy span het net een keer, in 1970 teen Griekwas, in ʼn eindstryd verloor en was in sy 13 jaar as afrigter net een keer nie in ʼn eindstryd nie.

Ironies genoeg was dit in 1975, toe die Ligbloues nie onder Oom Buurman die eindstryd kon haal nie en die jaar ná die Vrystaat se hartseer oor die Pierre Spies-drie, wat die Vrystaat sy eerste titel gewen het – en dít met ʼn rekord-eindstrydtelling van 33-16 teen die WP in Bloemfontein.

Buurman se enigste eindstrydneerlaag

Noord-Transvaal/Blou Bulle was seker by die drie grootste eindstrydverrassings die verloorder.

Die eerste was in 1970 toe Griekwas, wat weens die afstande baie selde kon saam oefen, Piet Uys se Ligbloues met 11-9 geskok het.

Griekwas was ná twee drieë deur Buddy Schwartz met rustyd 8-0 voor en moes in die tweede helfte teen die wind speel. Noord-Transvaal was 9-8 voor met meer as net a luggie van agter en drie minute se speeltyd oor toe Griekwas ʼn strafskop kry. Griekwas se kaptein Mannetjies Roux het die flank Peet Smith nader geroep en teen die windjie in het hy van 53 m geslaag met seker die belangrikste skop in dié unie se bestaan.

Ian Kirkpatrick het die span gebrei en die oorwinning is behaal teen ʼn Bok-belaaide Noord-Transvaal.

Die Ligbloues se ander skoknederlae was teen Natal (1990) en in 2005 teen die Vrystaat op Loftus, met die wentelling 25-29.

♦ In 1979 het so ´n klein, blonde losskakeltjie van Noord-Transvaal die WP op Nuweland van ʼn oorwinning beroof met ʼn skepskop vanaf die laaste skrum van die wedstryd.

Dit was Naas Botha se tweede skepskop in hierdie swak eindstryd wat, so het kritici gevoel, nie een van die spanne verdien het om te wen nie! Botha sou in sy jare by die Ligbloues die voorste puntemaker in Suid-Afrika en ook in Curriebekerwedstryde word.

WP-oorheersing

Die WP het daarna die onteenseglike beste span geword toe hy toe sy eie rekord tussen 1892 en 1998 met vyf agtereenvolgende oorwinnings geëwenaar het. Dit het Oom Buurman en die Ligbloues se beste van 4 wenne en ʼn gelykopuitslag oortref toe Dawie Snyman die WP tussen 1982 en 1986 afgerig het.

In 1989 was die wenskop van die WP se jong losskakel Riaan Gous op koers ná ʼn skitterende drie deur Carel du Plessis net voor die eindfluitjie. ʼn Skielike vlaag van die wind het die bal egter voor die pale kant toe gedruk en die eindtelling was 16-elk.

Interessant is dat Noord-Transvaal wat in 1998 die Blou Bulle geword het, in al vier gelykopuitslae in Curriebeker-eindstryde betrokke was: in 1971 teen Transvaal, in 1979 teen die WP, in 1989 teen die WP en in 2006 teen die Vrystaat. Al vier was wegwedstryde vir die Pretorianers.

♦ Een van dié skokke in ʼn eindstryd was toe Natal onder sy nuwerige afrigter Ian McIntosh in 1990, die Bulle op Loftus verslaan het.

Natal het in 1986 nog in die Curriebeker-reeks se B-afdeling gespeel en sy oorwinning het in sy eeufeesjaar gekom.

McIntosh het ʼn reusepak bymekaargekry, ʼn voorloper met voorbereiding geword toe hy die kopdokter Ken Jennings nadergetrek het, en met suurstof hul voorbereiding op Loftus gedoen het.

Natal het die Ligbloues voorlangs vasgevat, maar die tuisspan was voor toe die Natallers se vleuel Tony Watson enkele minute voor die einde ʼn laagvat afgeskud het om ná ʼn goeie lopie te gaan druk. Natal het toe met 15-12 voorgeloop, maar ʼn laatvat net ná Watson gedruk het, het ʼn strafskop op die middelkolletjie aan Natal besorg en Joel Stransky het dit ʼn heuglike 18-12 vir Natal gemaak.

♦ Een van die eienaardigste aanlope tot ʼn Curriebeker-sege was ongetwyfeld dié in 1991.

Noord-Transvaal het deurgaans gesukkel. Hulle het in Durban met 15-45 teen Natal en ook met 9-24 teen Transvaal verloor; toe die Lionsbeker-eindstryd op Loftus teen Natal met 62-6 gewen, Transvaal met 35-12 geklop en die WP met 28-9 ondergekry!

Dit was egter te laat, het almal gedink. Die Ligbloues moes op die Vrystaat staatgemaak om die WP te klop om nog ʼn buitekans te hê om die eindstryd te haal – en afrigter Eugene van Wyk en sy span, met vroue en meisies, het ná die seisoen by Sun City gaan uitspan.

Maar toe help ʼn toeskouer die Saterdag die Bulle deur na ʼn uitspeelreeks toe ʼn toeskouer, Brian Baenhoff, met net sy wit sokkies aan oor die Vrystaatstadion-veld hardloop en die WP se FC Smit te duik toe ʼn drie ʼn waarskynlikheid was.

Die WP is daarmee in ʼn uitspeelwedstryd teen Noord-Transvaal op Loftus Versfeld gedwing omdat die nederlaag hulle saam met die Blou Bulle en die Vrystaat in die gesamentlike tweede posisie op die punteleer gelaat het, met Transvaal in die eerste plek.

Van Wyk en die span is inderhaas van Sun City terug Pretoria toe vir die uitspeelwedstryd op die Woensdag teen die WP op Loftus, waar die tuisspan in versengende hitte met 34-21 gewen het; en toe drie dae later die Vrystaat in Bloemfontein met 27-23 geklop het.

Die Ligbloues was in die eindstryd! Dáár het hulle Transvaal toe op Loftus oortuigend in ʼn saai wedstryd 27-15 geklop.

Daar was ná eenwording in 1992 darem self ook ʼn paar uithalervertonings.

(Foto: Facebook via Derick Hougaard)

In 2002 het ʼn baie jong Derick Hougaard (26) van die Blou Bulle, soos hulle sedert 1998 genoem is, se 31 punte teen Transvaal op Ellispark aangeteken – die meeste nóg deur ʼn speler in ʼn eindstryd.

Pat Lambie het in 2010 vir die Sharks op Kingspark 25 punte in die sege van 30-10 oor die WP aangeteken – een meer as Naas Botha se destydse rekord van 24 toe hy in 1987 op ʼn reënerige dag met ʼn haelbuitjie vier skepskoppe en vier strafskoppe deur die pale gelig het.

In 2011, dié keer met Lambie op heelagter vir die Sharks en die Franse se Frederic Michalak op losskakel, het Transvaal egter die sterbelaaide Natallers met 42-16 verrinneweer en hul eerste Curriebeker-sege sedert 1950 op Ellispark behaal.

Elton Jantjies het dié dag 24 punte aangeteken en die Leeus het vier drieë teen die Sharks gedruk wat met hul terugkerende Bokke en altesaam 12 toetsspelers behoorlik geskok is.

So ʼn bietjie statistiek

Eindstrydwenners sedert 1968 toe daar jaarlikse kompetisies was –

Noord-Transvaal/Blou Bulle         21 waarvan vier gedeel (gelykop)
Westelike Provinsie                        13 waarvan twee gedeel (gelykop)

Natal/Sharks                                        8
Transvaal/Goue Leeus                     7 een gedeel (gelykop)
Griekwas                                               1

 

Alle titels, insluitende toernooie, ligas op tuis- en/of wegvelde en eindstryde –
Westelike Provinsie                         34
Noord-Transvaal/Blou Bulle         23 (sedert hul stigting in 1938 net in eindstrydkompetisies gespeel)

Natal/Sharks                                        8

Vrystaat                                                 6
Griekwas                                               3

Grens                                                      2

 

Meeste Curriebeker-wedstryde 

Jacques Botes (Sharks) 156

Meeste eindstryde
Naas Botha en Burger Geldenhuys (N-Tvl.) 11 elk
Meeste Curriebeker-punte
Naas Botha 1 699

Meeste punte in ʼn seisoen
Johan Heunis (N-Tvl.) 268

Meeste punte in ʼn wedstryd

Jannie de Beer (OVS) 42
Meeste Curriebeker-drieë
John Daniels (Goue Leeus en Boland) 66

Meeste drieë in ʼn seisoen
Bjorn Basson (Griekwas) 21
Meeste drieë in ʼn wedstryd
Jacques Olivier (N-Tvl.) 7

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

2 Kommentare

Frans ·

Dit sal die eerste keer in die geskiedenis van Curriebekerrugby wees dat punte verdien in ‘n ander kompetisie oorgedra word na die Curriebeker,wat mi ‘n absurde idee is.Nog gekker is die idee wat in Europa pos gevat het dat ‘n span ‘n oorwinning toegeken word oor ‘n span wat deur Covid-19 ontwrig is asof die spanlede nou moedswillig hulself aan die virus bloot gestel het.
Mense wie is dit wat sulke absurde idees uitdink.
Maak nie saak op watter vlak jy aan kompetisies deelneem nie -jy neem deel omdat jy glo dat jy ‘n gelyke kans het en dieselfde behandeling wil ontvang as die gunsteling.Was dit nou ‘n boksgeveg oor twaalf rondes verdeel in twee sou ek dit nog kon verstaan het en sou dan vir die Griekwas gesê het slaan hul uit want dit is al manier waarop jy gaan wen-jy is te ver agter op punte.

Raakvatter ·

Watter lekker berig om te lees. Ek moet saam Frans stem, wat help dit jy begin ‘n kompetisie en jy is so agter met punte dat jy nie kan wen nie. Redelike dom idee!

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.