Ontmoet ons wynboere: ʼn La Vierge proe soos hemel op aarde

Een van die Hemel-en-Aarde-valllei se spogwynplase is La Vierge

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

La Vierge beteken “The Virgin” in Frans. Dit is ook ʼn wynplaas in die skilderagtige en wêreldbekende Hemel-en-Aarde-vallei in die Overberg-streek geleë. Hermanus, wat bekend is vir sy walvisbesigtigings, is ʼn klipgooi van daar af.

Op hierdie wynplaas word ʼn baie seldsame boerderypraktyk vir dié streek toegepas. Die wingerde word glad nie besproei nie. “Geen besproeiing nie beteken wel ʼn laer opbrengs, maar laer opbrengste lei in ons geval tot ’n konsentrasie van uitmuntende geure,” sê La Vierge se wynmaker en wingerdbestuurder Christo Kotze. “En hoe beter die vrugte, hoe beter die wyn.”

Stoffel Damons, plaasvoorman; Christo Kotze, wynmaker en wingerdbestuurder en Neill Gellatly, plaasbestuurder, trotseer elke jaar wisselende klimaatsomstandighede om elke parsseisoen unieke geure in hulle wyne voort te bring.

Die lae temperature, hoë reënval en ʼn deurlopende koel seebries wat oor die gebied beweeg, maak dit wel moontlik om sonder besproeiing te boer. Omdat die reën ʼn wil van sy eie het, hou hierdie praktyk maar altyd ʼn risiko in, maar Christo kyk anders daarna. “Omdat elke seisoen anders is, verskil elke oes. Dus is ons wyn elke jaar uniek en sodoende word die karakter van die seisoen in ons wyne vasgevang,” sê hy. “Elke seisoen vertel sy eie storie.”

Om te vergoed vir die laer opbrengste, word La Vierge se lote so na as moontlik aan mekaar geplant. “Ons gebruik ʼn ‘treinspoorstelsel’ soos dit hier bekendstaan, om die lote op te lei. Hulle word vertikaal en een meter uit mekaar gespasieer. Om die plantdigtheid verder te verhoog word die rye 0,8 meter van mekaar geplant met 1,2 meter tussen die wingerdrye en 2,4 meter werkrye waar die trekkers kan inkom.

Christo boer sy wingerde per blok om ʼn bepaalde doel met elkeen te bereik, hetsy as ʼn komponent van ʼn versnit, of om op sy eie te staan.

La Vierge se 44 hektaar onder wingerde klink min, maar daar word 10 verskillende wyne uit die druiwe wat hier geoes word, gemaak.

Dekgewasse word tussen die wingerdrye geplant om monokultuur te vermy. Dit help ook met onkruidbeheer en verbeter die grondgesondheid omdat die bykomende biomassa die grond deurlug. Christo kyk ook na lugfoto’s om die groei in verskillende blokke te monitor en om streskolle te identifiseer, wat dan met meer kunsmis behandel word.

Met slegs 44 hektaar onder wingerd, produseer La Vierge tans ongeveer 100 000 bottels premium wyn per jaar. Dan bly daar nog druiwe oor wat verkoop word. Die wynkelder kan tot 300 ton per seisoen verwerk en beskik oor ’n groot rypwordingsfasiliteit.

Wat indrukwekkend is, is dat La Vierge tot so veel as tien verskillende kultivars op hierdie stukkie grond verbou. Die streek is bekend vir pinot noir en chardonnay, maar hulle verbou ook sauvignon blanc, sangiovese, shiraz, merlot, cabernet franc, petit verdot, sémillon en riesling.

La Vierge se restaurant en trou-fasiliteit troon bo die wingerde uit.

In die oesseisoen word daar kuns geskep. “Daar sit ʼn belangrike filosofie in die manier hoe die druiwe op La Vierge geoes word. Eerstens is dit ʼn gevoelstaak wat altyd met die hand gedoen word, terwyl dit so min as moontlik hanteer moet word. Die klem moet val op die sappige en wonderlike vrugte, nie die prosesse daarna nie.”

Dié ingesteldheid werp vrugte af, want in die 2020 Novare SA Terroir-wyntoekennings was La Vierge die wenner in die pinot noir-kategorie met hulle 2015 Apogée pinot noir. Tim Atkins praat met lof van hulle wyne en hulle doen ook baie goed in die Veritas-toekennings.

“Die La Vierge-handelsmerk kan slegs ten volle waardeer word op die beste manier moontlik – met ’n onvergeetlike wynproe op die plaas wat uitkyk op die stukkie aarde wat die wyn geproduseer het. Aangevul deur die natuurskoon, kuns, argitektuur en kookkuns, is ’n wynproe by ons iets wat jy nie gou sal vergeet nie.”

La Vierge se wyne se name laat die wenkbroue lig. Die bestuur wou buitengewoon wees met die benoemings en het tong in die kies ‘n betekenis aan elkeen gegee, gebaseer op die bybelse storie oor die Tuin van Eden en vandag se daaglikse versoekings.

La Vierge stel vyf wyne op www.diewynboer.co.za bekend: Nymphomane 2017, ʼn rooi versnit, Anthelia 2017 syrah; Affair pinot noir 2019, Jezebelle chardonay 2018 en Original Sin sauvignon blanc 2019.

Wynboere het ernstige verliese gely as gevolg van die regering se drankregulasies tydens die grendelstaat. Hulle sit met oorskot wyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word terwyl 2021 se oestyd in volle swang is. Om hulle te help het Saai ʼn aanlyn winkel, www.diewynboer.co.za/www.thewinefarmer.co.za in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hulle huise wyn kan bestel.

Kyk die video oor ʼn onderhoud met Christo Kotze van La Vierge:

 

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Kirst ·

Dalk moet die woord “proe” as ‘n taaltoffie behandel word. Ek was altyd onder die indruk dat dit net as ‘n werkwoord gebruik kan word. Moet dit nie lees ‘n La Vierge smaak soos hemel op aarde nie?

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.