Ontmoet ons wynboere: Rietvallei hou vas aan sy familie

Die Rietvallei-wynlandgoed is al ses geslagte in die Burgers se besit. (Foto: Facebook)

Maroela Media vertel gereeld ʼn storie van ʼn ander wynboer en sy plaas om ʼn kykie in die eiesoortige kultuur, leef- en werkwyse van dié romantiese landbousektor te kry. Klik hier om vorige artikels te lees. 

Rietvallei‑wynlandgoed het in 2014 ’n belangrike mylpaal bereik deur een van slegs ’n handjievol Suid-Afrikaanse wynlandgoedere te word om 150 jaar se eienaarskap onder een familie te vier. Hierdie wynlandgoed is nou in Kobus Burger se hande, wat die sesde geslag Burgers is om wyndruiwe te produseer.

Die plaas is in 1864 deur Alewyn Burger vir sy seun, Jacobus Francois, gekoop. Hy was ʼn gerekende baanbrekerwynboer en was 70 jaar oud toe hy in 1908 ’n muskadel-wingerd op die plaas gevestig het, wat vandag die oudste van sy soort in Suid-Afrika is. Hierdie wingerd bestaan uit bosstokke en is ongeveer 0,37 hektaar groot.

Rietvallei was ook een van die eerste wynplase wat in die pragtige Robertson-wynvallei gevestig is en lê in die Klaasvoogds-wyk, ’n gebied met eiesoortige grondstrukture en ʼn klimaat wat ideaal is vir die verbouing van wyndruiwe.

Die landgoed is 215 hektaar groot, waarvan 95 hektaar onder wingerd beplant is.  Ander gewasse soos bloubessies en lusern word ook op die landgoed verbou.

Heelwat vermaaklikhede wag op Rietvallei se gaste terwyl hulle oor die pragtige tuin kan uitkyk. (Foto: Verskaf)

Tans bestaan die wingerde uit 55% wit en 45% rooi kultivars wat hoofsaaklik saamgestel is uit sauvignon blanc, chardonnay, chenin blanc, cabernet sauvignon, cabernet franc, shiraz en dan natuurlik die tradisionele rooi muskadel.

Nadat Kobus ʼn offisierskursus in die vloot en ʼn graad in meganiese ingenieurswese verwerf het, het hy in 2002 sy gewig agter sy pa, Johnny, ingegooi en by Rietvallei-landgoed se bemarking betrokke geraak. Hulle het besluit om van Distell, wat die landgoed se bemarking en verspreiding langer as 25 jaar gedoen het, weg te breek. In 2002 het Vinimark die nasionale verspreider van Rietvallei-landgoed geword.

In 2002 het Kobus ook die kuns van wynmaak aan die Bergkelder in Stellenbosch begin bemeester en in September is hy Frankryk toe waar hy tydens hul oestyd in Sancerre by die Henri Bourgeois-familiewynkelder gewerk het.

Kobus het sy eerste oes op Rietvallei saam met sy pa in 2003 meegemaak, wat hom die fynere vaardighede, wat eie aan die plaas is, geleer het. In 2004 was Kobus gereed om die wynmakery oor te neem terwyl sy pa begin het om hom op die boerdery toe te spits.

Kobus en sy vrou, Elizabeth, het vier kinders, twee dogters en tweelingseuns. Elizabeth is aktief betrokke by die onderneming en bestuur die herehuis en ander geriewe. Sy is ook die sjef wanneer spesiale gaste of internasionale agente op die plaas onthaal word.

Elizabeth Burger vat voor wanneer vyfster-geregte vir belangrike gaste voorberei word. (Foto: Facebook)

Rietvallei se wingerde floreer in die skoon Karoo-lug wat vanuit die noorde oor die Langeberg na die kus beweeg. Dit gebeur ook dikwels vroeg in die oggend dat die wingerdstokke in mis gehul is terwyl ʼn somerbriesie weer van die kus af kom om die druiwe verder af te koel, sodat hulle stadig kan ryp word om ʼn voldoende suikerinhoud te ontwikkel.

Die grond op die landgoed is goed gedreineer en ryk aan kalk, met ’n hoë pH, wat ideaal vir wynbou is. Die grondsoorte wissel van rooi kalkagtige klei-leem, tot diep kalkleem, tot rotsagtige en selfs ook tot sanderige alluviale grond teen die banke van die Breërivier.

Soos die moderne neiging is, word ook so veel as moontlik organiese praktyke op Rietvallei toegepas. “Wanneer dit beskikbaar is, komposteer ons hoendermis en/of beesmis saam met ons druiwedoppe wat ons dan gedurende die wintermaande in die wingerde inwerk. Ongelukkig is die mis nie altyd beskikbaar nie, of net te duur om ekonomies sin te maak,” sê Kobus. “Derhalwe gebruik ons ook gewone kunsmis om aanvullings te doen.

“Ons pas voorkomende spuitprogramme toe vir witroes en donsskimmel, wat potensieel twee groot probleme vir wingerdboere in die Wes-Kaap is. Hoe natter die jaar is, hoe hoër is dié siektes se druklading, maar as jou voorkomende stelsels in plek is, is jy veilig.”

Bykomend tot die kompos spuit Kobus ook aanvullende blaarvoeding.

ʼn Gedeelte van Rietvallei se wingerd word meganies gesnoei met ʼn snoeiaanhangsel vooraan ʼn trekker en die oprankstelsels is spesiaal daarvoor aangepas. Hierdie boorde word ook meganies geoes.

Die groot New Holland-oes- en parsmasjien maak korte mette van oestyd. (Foto: Facebook)

Die ou muskadel bosstok-blok moet weer sagkens hanteer word en met die hand gesnoei word. Daar word ook ʼn graaf en skoffel ingespan om rondom skoon te maak. “Die blok was destyds baie groter, maar moes toenemend plek maak vir nuwe aanplantings en soms gaan daar oesjare verby wat daar niks geoes word nie, maar ons hou dit vir ʼn nalatenskap,” sê hy.

Rietvallei bied wyn vir elke klas koper aan, van hul Rietvallei Heritage- en Classic-versamelings tot die gewilde John B-handelsmerk.

Vanjaar het Kobus ook die mark met ʼn sak in ʼn boks binnegedring met die John B-reeks  “Dit werk uitstekend vir restaurante wat wyn by die glas verkoop.”

Rietvallei bied verskillende opsies vir funksies met ’n mediumgrootte binnehof wat uitloop op die ruim stoep en weelderige grasperk. Dit kyk uit op ʼn pragtige tuin en bied ʼn asemrowende uitsig op die Langeberg. Daar is ook ʼn gesellige lapa met sy eie kroeg en ’n kaggel. Rietvallei kan ook konferensies en vergaderings vir tot 50 mense aanbied.

Rietvallei se wyne wat op diewynboer.co.za beskikbaar is. (Foto: diewynboer.co.za)

Wynboere het ernstige verliese gely as gevolg van die regering se drankregulasies tydens die grendelstaat. Hulle sit met oorskot wyn en oorvol kelders en voorraad waarvan ontslae geraak moet word. Om hulle te help is ʼn aanlyn winkel, https://www.thewinefarmer.co.za/ www.thewinefarmer.co.za, in die lewe geroep waar wynkopers in die gemak van hul huise wyn kan bestel.

Kyk na ʼn onderhoud met Neil Stevens, bemarking- en verkoopsbestuurder van Rietvallei-landgoed:

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Nou pra' jý

Een kommentaar

Ilena ·

Goed geskryfde artikel. Wonderlik om te lees van families wat geslagte lank ‘n tradisie voortdra.

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.