Soorte resepte:

Rooibos-sjokolade nuutste kosgier wêreldwyd

Rooibos-sjokolade word al meer gewild (Foto: Verskaf)

Sjokoladevervaardigers van oor die wêreld begin nou aandag gee aan sjokoladegeure wat uitstaan bo die res.

Van die geure sluit laventel, borrie, gemmer en chai in, en Suid-Afrika se kenmerkende rooibosgeur is ook nou wêreldwyd ʼn gunsteling.

Adele du Toit, woordvoerder van die Suid-Afrikaanse Rooibosraad, het gesê dit is ʼn gelukslag dat die wêreld se $103 miljoen-sjokoladebedryf nou kennis neem van rooibos.

“Soos wat verbruikers se smaakprofiel verander en nuwe verbruikers die mark betree, word nuwe geleenthede geskep. Vandag hou die jeug van ervarings eerder as besittings en hulle is altyd op soek na nuwe dinge om te beproef. Dit gee ons die kans om onverwagte teksture en geure te ontwikkel,” het Du Toit gesê.

Afgesien van die jeug is daar ook ʼn gier na gesonder opsies in die kosmark. Die sjokolademark het reageer deur ʼn produk soos rooibos en ou gunstelinge soos sjokolade byeen te bring.

“Rooibos is ryk in anti-oksidante, wat help om die liggaam teen vry radikale wat selle beskadig, te beskerm. Omdat dit natuurlik soet in smaak is, is dit ʼn natuurlike opsie vir sjokolade,” het sy gesê.

Sweedse sjokoladevervaardiger, Daniel Waldis, wat die Suid-Afrikaanse franchise Le Chocolatier besit, het gesê rooibos en sjokolade werk goed saam omdat dit baie van dieselfde eienskappe het.

Waldis het gesê rooibos en sjokolade deel die geure van vrugte, blomme en neute wat dié twee ideale pasmaats maak.

“Rooibostee spesifiek paar goed saam met witsjokolade omdat sy sitrus-ondertoon deur die rykheid van die sjokolade sny terwyl die rokerigheid van rooibos die neuterigheid van melksjokolade net so goed aanvul,” het hy gesê.

“Een van ons beste verkopers is die rooibos-praline, waar ons melksjokolade en witsjokolade meng saam met ʼn gekonsentreerde rooibostee-ganache. Plaaslike mense én toeriste is mal daaroor.”

Rooibos word wêreldwyd al meer gebruik in sjokoladestafies, sjokoladedrankies en suikervrye sjokolade-alternatiewe. Maroela Media het ook vroeër berig dat rooibostee-mengsels groot naam begin maak in die buitelandse mark.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.