SA ‘oorlogsone’ vir vroue, kinders

Bheki Cele (Foto: Kopan o Tlape, Verskaf)

“Suid-Afrika het ’n grusame oorlogsone vir vroue en kinders geword, wat daagliks verkrag, vermoor en vermink word. Elke keer as ʼn vrou of ʼn kind gewelddadig aangeval word, verloor ons ʼn deel van ons siel as ʼn nasie.”

Só sê Andrew Whitfield, die DA se woordvoerder vir polisie, oor die “skokkende toename van geweldsmisdade teen vroue en kinders”.

Luidens die land se jongste kwartaallikse misdaadstatistieke wat Vrydag bekendgemaak is, is altesaam 855 vroue en 243 kinders tussen April en Junie vermoor. Dit is onderskeidelik ’n toename van 53,2% en 46,4% teenoor die ooreenstemmende tyd verlede jaar.

In altesaam 11 734 klagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer wat by polisiestasies aanhangig gemaak is, was vroue die slagoffers. In 1 670 van hierdie sake was kinders betrokke.

In sake van poging tot moord was 282 slagoffers vroue en 61 kinders.

ʼn Totaal van 9 516 verkragtingsake is aangemeld.

“Geweld teen vroue en kinders skeur ons delikate sosiale weefsel weg en ontbloot die mislukkings van ons staat en ons samelewing op die mees grafiese en verwoestende manier,” sê Whitfield.

Volgens Whitfield beklemtoon hierdie hoë syfers die krisis wat die land in die gesig staar met die leisels in Bheki Cele as minister van polisie se hande.

“Ondanks Cele en pres. Cyril Ramaphosa se pogings om geslagsgebaseerde geweld te bekamp, het dit gruwelik misluk. Vroue en kinders ly selfs meer onder minister Cele se toesig.”

Ian Cameron van Action Society beskryf die moorde van vroue en kinders as ’n “bloedbad”.

“Enigiemand wat dink hulle maak vordering in die bekamping van misdaad wanneer die jongste statistieke ’n toename van meer as 50% van vermoorde vroue in ’n jaar toon, moet weer dink,” sê Cameron.

Die DA en VF Plus het hul kommer uitgespreek oor die stadige vordering met die hantering van die DNS-agterstand by die Nasionale Forensiese Wetenskaplaboratoriums (NFSL) byna drie jaar nadat dié agterstand in die parlement blootgelê is.

“Hierdie gebrek aan vordering onderstreep die [gebrek aan] erns waarmee minister Cele geweldsmisdaad benader,” sê Whitfield.

Stad Kaapstad het Donderdag ’n amptelike versoek aan Cele gerig waarin hy formeel versoek word dat plaaslike polisiëringsmagte aan die stad oorgedra word sodat die polisie meer effektief kan wees in samewerking met die stad se Wetstoepassingsbevorderingsprogram (Leap).

“SAPD stort in duie onder die gewig van sy gesentraliseerde burokrasie van hoogs betaalde senior bestuurders en die enigste manier om die polisie van homself te red, is om sekere magte aan provinsies en stede oor te dra.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

O wee, die gesang is uit! Die kommentaar op hierdie berig is gesluit. Kom kuier gerus lekker verder saam op ʼn ander artikel.