SAUK betaal eindelik tantieme uit

SAUK (Foto: Karen Sandison/African News Agency/ANA)

Ná maande lange bakleiery het die SAUK Vrydag beloof om 35% van die gelde wat dit aan skrywers en komponiste verskuldig is wat by die Suid-Afrikaanse Musiekregte-Organisasie (Samro) geregistreer is, uit te betaal.

Die SAUK het gesê dat die sowat 19 000 kunstenaars wie se musiek op SAUK-televisiekanale en oor radiostasies uitgesaai is, nou hul tantieme sal ontvang namate die organisasie sy agterstallige skuld begin vereffen.

Te midde van sy eie finansiële uitdagings het die uitsaaier versuim om organisasies soos Samro en die Suid-Afrikaanse Musiekoptredersregte-Vereniging (Sampra) te betaal vir dienste wat gelewer is.

Teen die einde van September was gelde van R160,4 miljoen uitstaande aan Samro.

David Scott, ook bekend as The Kiffness. (Foto: Verskaf)

David Scott, beter bekend as The Kiffness, is een van die bekendste gesigte in die geveg oor die uitbetaling van tantieme aan sangers en musikante. Hy het hom beywer om die pleidooi van musikante in Suid-Afrika in die kollig te werp. Hy vertel aan Maroela Media dat hy swaarde gekruis het met die SAUK én Samro omdat albei ondernemings sloer om kunstenaars te betaal.

Scott het ook, toe die SAUK aangekondig het dat hy wel die Wêreldbeker se finaal tussen Suid-Afrika en Engeland gaan uitsaai, die uitsaaier se Vuyo Mthembu gepeper oor hoe hulle dit gaan bekostig, maar steeds R250 miljoen aan Suid-Afrikaanse kunstenaars verskuldig is. Die SAUK skuld Scott sowat R100 000.

“Dis verstommend dat daar skielik geld is om vir die uitsaairegte van die Wêreldbeker te betaal, maar ons [kunstenaars] wag al vyf jaar lank vir betaling,” het hy in ʼn video gesê waarin hy sy gesprek met Mthembu opgeneem het.

Die saak rakende die versuiming om te betaal is verlede week deur die African Christian Democratic Party se Steve Swart voor die parlement gebring. Scott sê dit is danksy sy petisie wat hy van stapel gestuur het, asook ʼn sameloop van gebeure, dat die saak in die parlement geopper is.

“Ek het eendag opgetree en met ʼn ander groep agter die skerms begin gesels. Ek het oor my petisie gepraat en toevallig was die groep Swart se seuns. Hulle het die saak verder gevoer,” vertel hy aan Maroela Media.

Oor die werklikheid van betalings is hy optimisties maar versigtig, sê Scott. “Ons het lank baklei dat die SAUK Samro moet betaal, maar Samro is ook berug daarvoor dat hy nie sy betalings afhandel soos hy moet nie. Hulle betaal ons ook nie naastenby genoeg nie, maar daar is geen manier vir Suid-Afrikaanse kunstenaars om vas te stel wat hulle ons eintlik skuld nie, daar is geen formule nie.”

Scott sê egter dat hy data kon bekom van hoeveel keer sy musiek, veral sy “You say you love me”, oor die onderskeie SAUK-radiostasies gespeel is. Ná afloop van die tantieme wat hy by Sampra ontvang het, weet hy dat hy ingeloop word deur Samro. “Hulle moet deursigtig wees met hul prosesse.”

Die SAUK het beloof om elke maand sy betalings teenoor Samro te betaal en glo dat hy teen April 2020 sy skuld sal vereffen.

Ditebogo Modiba, Samro se tussentydse uitvoerende hoof, het gesê hulle is verheug dat die SAUK hierdie betalings prioritiseer. “Hulle verstaan nou watter invloed dit op die sektor se volhoubaarheid het, aangesien tantieme ʼn bron van inkomste vir baie kunstenaars in die land is.

“Alle gelde wat ons van die SAUK ontvang, sal nou gebruik word om tantieme aan ons lede te betaal, wat ons doel en funksie is.”

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.