Senekal-moordhuis was ‘chaoties’

Abraham Fourie se verhoor het Maandag in die hof in Bethlehem afgeskop (Foto: Anja van der Merwe, Maroela Media)

“Die slaapkamer was chaoties en daar was bloed op die vloer wat duidelik afgewas is.”

Só het konst. MJ Mashinini, ʼn lid van die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD), Woensdag in die rondgaande hof in Bethlehem in die Vrystaat gesê toe sy oor Johanna Maryna Venter (48) se moordtoneel getuig het.

Mashinini was een van die polisielede wat op 13 Junie na Venter en haar lewensmaat, Abraham Thomas Fourie (52), se huis in Waterstraat, Senekal, ontbied is. Dit volg nadat die polisie inligting ontvang het dat Fourie op Venter se liggaam in die slaapkamer afgekom het.

Fourie word aangekla van Venter se moord en word tans verhoor.

Mashinini het getuig Fourie se vriend, Barry Stander, het die oggend by die polisie aangemeld en gesê “sy vriend se vrou het haarself met warm water gebrand en het haar eie lewe geneem”. Mashinini is saam met ander polisielede na die huis.

Met die polisie se aankoms by die huis het Fourie die polisie na die slaapkamer geneem waar hulle Venter se verminkte liggaam op die bed aangetref het.

Mashinini sê daar was ʼn oop wond tussen Venter se oë – op haar neusbrug – en haar gesig het brandwonde gehad. “Die wond op haar neus het vir my ná ʼn nuwe wond gelyk,” het Mashinini getuig.

Mashinini sê daar was ook ʼn oop wond op Venter se agterkop, wat vir haar gelyk het asof daar hare uit haar kopvel getrek is.

“Daar was ʼn kombers bo-oor haar wat ons afgetrek het. Dit is toe dat ons sien dat sy brandwonde reg oor haar liggaam het.”

Chaos

Johanna Maryna Venter en Abraham Thomas Fourie (Foto: Facebook)

Mashinini het in die hof gesê die slaapkamer was deurmekaar en vuil en dit het vir haar gelyk asof daar ʼn fisieke skermutseling in die kamer kon plaasgevind het. Sy sê dit lyk ook asof die kamer lanklaas skoongemaak was.

“Die wasgoedmandjies was gebreek en vuil klere het orals op die grond gelê. Daar was ook hare – duidelik dié van ʼn mens – wat op die slaapkamervloer gelê het. Die hare het tot by die badkamerdeur gelê.”

Mashinini sê daar was ook ʼn bottel drank – wat in die hof as ʼn bottel brandewyn geïdentifiseer is – op die bedkassie gevind. Stander het Dinsdag in die hof getuig dat Fourie Stander se bottel brandewyn uit sy motor verwyder het toe hy Fourie die aand voor die moord by die huis afgelaai het.

Volgens Mashinini was daar ook bloed op die vloer langs die bed en op die muur, asook op die deurraam van die slaapkamer. Daar was ook bloed op die vloer en muur van die badkamer en bloed in die stort.

Sy sê dit het gelyk asof die bloed afgewas is, maar die persoon het nie ʼn ordentlike werk gedoen nie, omdat die bloed nog duidelik sigbaar was. “Die strepe van hoe die persoon die bloed probeer afwas het, was duidelik sigbaar.”

Die polisie het luminol op die vloere en mure gespuit wat aangedui het dat daar wel bloed was.

Mashinini sê wat ook opmerklik was, was die groot plastiekskottel – van ongeveer 60 cm in omtrek – wat in die stort gestaan het.

Mashinini sê daar het ook ’n bebloede onderbroekie van ʼn vrou en T-hemp op die badkamervloer gelê. Sy sê daar was ook menshare in die stort – wat soos dieselfde hare as dié in die slaapkamer gelyk het.

Die verhoor duur Donderdag voort.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.