Tydelike Krieketraad se termyn verleng

Foto: Marco Longari/AFP.

Die termyn van Krieket Suid-Afrika (KSA) se tussentydse raad is tot die middel-Februarie verleng.

Die raad is in Oktober deur Nathi Mthethwa, minister van kuns, kultuur, sport en ontspanning, benoem.

Mthethwa se woordvoerder, Masechaba Khumalo, het Donderdag uitgewys dat Mthethwa aanvanklik gesê het die tussentydse raad onder leiding van regter Zak Yacoob het drie maande om sy werk af te handel, maar aangesien KSA die tussentydse raad eers in November aangestel het, is die uitstel geregverdig.

Nadat hy op hoogte gebring is van die vordering het Mthethwa gesê dit wil voorkom asof die tussentydse raad, na ʼn mate van aanvanklike struweling, gunstig deur Suid-Afrika se krieketliefhebbers ontvang is.

Dié raad het Kugandrie Govender in Desember as tydelike uitvoerende hoof geskors weens verskeie misdrywe.

Govender het in Augustus op ’n nie-permanente basis die leisels by dr. Jacques Faul as KSA se uitvoerende hoof oorgeneem. Sy was die beleërde nasionale krieketbeheerliggaam se eerste vrou in dié posisie.

“Ek is oortuig daarvan dat hierdie termynverlenging die tussentydse raad in staat sal stel om ʼn konstruktiewe en uitvoerbare verslag daar te stel wat die nodige hervormings bevat sodat Suid-Afrikaanse krieket se potensiaal verwesenlik kan word,” het Mthethwa toegevoeg.

Hy het ook aangedui dat verdere verlengings oorweeg sal word indien dit aangevra word.

ondersteun maroela media só

Sonder Maroela Media sou jy nie geweet het nie. Help om jou gebalanseerde en betroubare nuusbron se toekoms te verseker. Maak nou ’n vrywillige bydrae. Onthou – ons nuus bly gratis.

Maak 'n bydrae

Het jy iets op die hart? Maroela Media se kommentaarfunksie is ongelukkig gesluit oor die Paasnaweek. Kom kuier gerus later weer!

Nuuswenke kan deur hierdie vorm gestuur word.